4 maande gelede
Na graf sonder prints
TRAUMA: Adiela Stemmet sê die hele storie rondom haar man se dood maak dat sy snags nie lekker kan slaap nie.  ~ Peter Abrahams

’N FAMILIE van Mitchells Plain soek antwoorde by ’n begrafnisdiens en die gesondheidsdepartement nadat hul geliefde begrawe is sonder dat sy vingerafdrukke geneem is.

Enkele dae voor Krismis is Covid-19 in die Mitchells Plain-distrikshospitaal by Moegamat Stemmet (68) gediagnoseer.

Sy vrou, Adiela Stemmet (59), van Eastridge, vertel sedert daai dag kon sy nog nie reg slaap nie oor sy worry dat haar man nie rus nie.

Sukkel

Adiela sê dit spook by haar dat sy getwyfel het oor die besluit om haar man van soveel jare by die hospitaal te los, maar het sy geweet hy het hulp nodig.

Op 4 Januarie het hulle die oproep van die hospitaal gekry dat Stemmet in die Freesia-saal oorlede is.

“Ons sukkel al van daai dag om sy doodsertifikaat te kry omdat hulle hom begrawe het sonder om sy vingerafdrukke te kry.”

Firdouz Hass (29), Stemmet se dogter, onthou hoe die familie gesukkel het om met haar derra kontak te behou terwyl hy in die hospitaal was.

“Ons is ingelig ons kan nie my pa visit nie. Daai het ons verstaan. Maar ons kon ook nie sy charger daar los nie omdat dít ook nie toegelaat is nie.”

Hass sê haar pa se toestand was in die eerste week stabiel maar kritiek. In die tweede week het dit verswak.

“Toe ons die oproep kry dat hy afgesterf het, het ons onmiddellik ’n plan gemaak om hom te begrawe omdat ons Moesliem is.”

Volgens Hass het haar ouers hul begrafnisplan die jaar tevore verander. Hulle was ten tyde van haar pa se afsterwe nog nie ses maande op die nuwe plan nie.

“Die wagperiode dat die plan kan inskop, was ses maande, al het hulle tot dié jaar Maart klaar betaal.

“Toe kry ons die raad om die begrafnisdienste van Ig­shaan Isaacs te gebruik.”

Die familie sê dis toe dat hul nagmerrie begin het.

VRAE: Volgens Firdouz Hass het die dokter vir haar gesê hy het wel die kennisgewing aan die begrafnisondernemer oorhandig. Foto: Peter Abrahams

Hass sê Isaacs het hulle ingelig die dokter het nie die doodskennisgewing uitgeskryf nie en hy is aangesê om die volgende dag ná die janazah terug te kom.

Intussen het die dokter Hass ingelig hy het wel die doodskennisgewing aan Isaacs verskaf sodat die lyk oorhandig kan word.

“Hulle speel ’n back-en-forth game en ons weet nie meer wie om te glo nie.”

By binnelandse sake is die familie ingelig daar is g’n vingerafdrukke by die doodskennisgewing nie en dus kan hulle nie die doodsertifikaat kry nie.

“Igshaan het gesê dit gaan hom duisende kos om die gat weer oop te maak en vingerafdrukke te kry.

“Hy het ons ook laat weet ons kan die hospitaal vra om daarvoor te betaal en vir hom ’n Covid suit te gee.”

Adiela sê: “Ek is steeds in groot skok. Daai persoon was nie net my man nie, hy was my lewensmaat. Ons het alles saam gedoen. Nou weet ek nie eens of dit hy is wat begrawe is nie.

Verkeerd

“Elke dag loop die trane, want ek het nie closure nie.”

Toe Son Isaacs vir kommentaar bel, het hy net gesê die familie verstaan die issue verkeerd.

Hy het ook verkies om nie met die koerant te deal nie.

'Hospitaal kan help met papiere'

MONIQUE Johnstone, ’n woordvoerder van die Mitchells Plain-distrikshospitaal, verduidelik Mogamat Stemmet se armband is gebruik om sy liggaam te identifiseer.

“Die armband stem ooreen met sy ID in die folder.

“Die doodsertifikaat is voltooi.”

Johnstone voeg by dat die hospitaal bereid was om met die begrafnisonder­nemer saam te werk en hulle het voorstelle aan hom gemaak.

“Nadat ons ’n konsultasie gehad het, het ons ’n oplossing voorgestel waarvoor die ondernemer ’n affidavit moet indien oor die gebeure van die dag.

“Die hospitaal sal ook help om die doodsertifikaat van binnelandse sake te kry.

“Die gesin is baie welkom om die hospitaal te kontak vir duidelikheid.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters