10 dae gelede
KYK: ’n Tydige toets kan lewe red
Stel voorbeeld: Min. Nomafrench Mbombo is Vrydag getoets.  ~ Anele Mfazwe

DIE Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, moedig vroue aan om hulle vir borskanker te laat toets.

As deel van Borskankerbewustheidsmaand het Mbombo Vrydag by die Groote Schuur-hospitaal ’n mammogram laat doen.

Sy het voor die toets gesê sy sien uit daarna omdat dit iets goeds is vir haar gesondheid.

Dr. Francois Malherbe van die hospitaal se departement van radiologie sê die hospitaal het weens die lockdown vanjaar minder pasiënte gesien.

Diagnoses

“Covid-19 het ’n vertraging veroorsaak, maar noudat ons op vlak 1 is, kom meer pasiënte in.”

Volgens hom doen die hospitaal elke jaar sowat 600 diagnoses.

Dit beteken ál die verskillende afdelings, onder meer dié van maatskaplike werk, moet baie hard werk.

Malherbe voeg by hulle kan nie almal toets nie.

Mense wat vir ’n mammogram gaan, moet eers ’n voorlopige prosedure ondergaan.

“Sover ek weet, het ons slegs twee mammogram-masjiene in die Wes-Kaap,” verduidelik hy.

“Dis by die Tygerberg-hospitaal en hier in Groote Schuur.

Abnormaliteite

“Baie vroue dink pyn in die bors is ’n simptoom van kanker.

“Dit is egter nie die geval nie. Ons kyk uit vir ’n knop in die bors of enige ander abnormaliteite by die bors.”

Moet ook nie dink dis iets wat net vroue oorkom nie.

Dr. Ntsekane Thebe sê 1% van alle mense by wie borskanker gediagnoseer word, is mans.

Volgens Malherbe kan borskanker suksesvol behandel word as dit vroeg genoeg bespeur word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters