27 dae gelede
’n Swart Xmas
dié is weg: Past. Johannes Seekoei staan waar daar eens ’n lapa was. Foto’s: jonathan lestrade  ~ 

KLAPPERS was glo die oorsaak van ’n brand wat Colin Booysen se huis byna verwoes het.

Past. Johannes Seekoei, wat tans die huis by Booysen huur, ontken gerugte dat die huis Saterdag ge­petrolbom is.

Op sosiale media word daar ’n boodskap versprei ’n oorlog gaan nou, ná dié voorval, tussen die gangs in Belhar uitbreek.

Seekoei het aan Son vertel hy was by die werk toe die brand omstreeks 11:00 uitgebreek het.

Volgens hom verstaan hy van die bure se kinders het agter sy huis klappers geskiet en op hulle dak gegooi.

“Vandat ons hier bly, het daar nog nooit iets gebeur nie,” vertel hy.

“Ons sal vir die brandweer se verslag moet wag voordat ons weet wat werklik gebeur het.”

bedroef: Ronel Johannes is hartseer oor hulle hond Courage in die brand om­gekom het.

Seekoei sê hy’s niks impressed met die stories wat op sosiale media versprei word nie.

Hieroor sê hy: “Ek is baie geskok oor die rumours.”

Hulle het van sy kerk se instrumente en meubels in die brand verloor.

Seekoei se bure, Joseph en Ronel Johannes, se huis het méér skade opgedoen.

Hulle hond Courage is in die brand dood.

Ronel het aan Son vertel hulle het by ’n markdag gewerk toe hulle van die voorval oor die polisieradio hoor.

Ronel vertel: “Dit het alles so onwerklik gevoel.

Gekliek

“Daar is melding gemaak van ’n huis in Jakarandastraat wat brand.

“Toe hulle die adres noem, het dit steeds nie by my gekliek nie.

“My skoonma het dieselfde tyd gebel om te sê ons huis brand.

“My man is toe sommer saam met die kaptein daar weg.

“Eers toe die sirene skreeu, het ek besef dis ’n noodgeval.”

Sy vertel huilend verder: “Die brandweer was nog besig om die vuur te blus, toe begin soek ons na die hond. Ek het hom onder die tafel gekry lê.

“Ek worry nie oor wat ons verloor het nie, maar Cour­age was soos een van ons kinders.”

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. FC van Wyk, kon gister kort voor druktyd nog nie sê wat die brand veroorsaak het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters