16 dae gelede
’n Nuwe begin
Goeie toekoms: Shahied Ajam sien uit na die dag wanneer Distrik Ses se mense gaan terugtrek.  ~ Melinda Stuurman

DIE droom van ’n nuwe Distrik Ses begin nou vinnig ’n realiteit word.

Maar die Distrik Ses-grondeisers sal moet hard werk om dié historiese woonbuurt ’n sukses te maak wanneer hulle terugkeer.

Volgens die direkteur van die District 6 Working Committee (D6WC), Shahied Ajam, het die nasionale regering R1,5 miljard beskikbaar gestel vir ontwikkeling.

Saamgewerk

Die bouwerk sal na verwagting in November begin.

Die Stad Kaapstad sal voorbereidings maak sodat die rioolstelsel geïnstalleer word.

Ajam sê hy is beïndruk met hoe die nasionale regering saamgewerk het om die projek, wat na verwagting einde 2023 voltooi sal word, ’n realiteit te maak.

“Ons wil hê honderde mense moet gelyk kom intrek,” voeg hy by.

“Dit sal die mooiste ding wees. Maar die eisers kry nie die plek verniet nie.

“Ons moet hard werk om dit suksesvol te maak.”

Ajam sê die D6WC het Saterdag ’n update aan die publiek gegee.

“Die mense het die progress report baie verwelkom,” sê hy.

“Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het aan al die hof se vereistes voldoen.

“Die minister het ingevolge die Kaapse hooggeregshof se hofbevel ’n tydperk gegee wanneer die projek sal plaasvind, naamlik tussen 2020 en 2023.

“Die regering het ook R1,5 miljard opsy gesit vir die bouwerk. Die kriteria is ook geïdentifiseer.”

Volgens Ajam gaan altesaam 954 mense by Distrik Ses intrek en sal hulle ’n “10 jaar holiday” kry op rates en taxes. Hulle sal dus nie rates in die eerste 10 jaar betaal nie.

Hy moedig die mense aan om dié tyd te gebruik om ’n inkomste te genereer – al moet hulle een van hulle slaapkamers aan toeriste uitverhuur.

Ajam doen ook ’n beroep op ander organisasies wat eisers verteenwoordig om saam te werk in die belang van die mense.

Volgens Ajam sal daar ook geleenthede van bekostigbare behuising wees in Distrik Ses vir mense wat nie eisers is nie. Daar sal ook geleenthede wees vir besighede.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters