2 maande gelede
’n Lewe vir R2
dood: Roslyn Cornelius (47) van Steenberg is Sondagaand dood nadat sy erg aangerand is.FotoVERSKAF  ~ 
hierso: Megan Cornelius (20, regs) en ’n jong familielid by die shop waar haar ma dood is.Foto: JONATHAN LESTRADE

SY HET bakhand vir ’n R2 gevra.

Sy wou ’n kers by die spaza shop koop.

Maar dié stukkie bedel Sondagaand het Roslyn Cornelius (47) van Steenberg haar lewe gekos.

Haar bitter ontstelde jongste dogter, Megan Cornelius­ (20), sê haar mammie is Sondagaand omstreeks 20:00 in die Steenberg-daghospitaal dood verklaar.

Die familie het gehoor ’n gangster het hulle ma aangerand.

dood: Roslyn Cornelius (47) van Steenberg is Sondagaand dood nadat sy erg aangerand is.FotoVERSKAF

Polsslag

Dié aanranding het by ’n Somaliër se shop naby hulle huis gebeur.

Megan vertel: “Daar is sy vir dood agtergelaat.

“Toe ons haar daar op die winkelstoep kry, was daar geen polsslag nie.

“Ons het met haar na die Steenberg-daghospitaal gejaag, maar sy was reeds dood toe ons daar aankom.

“Sy het verskeie merke aan haar hande en arms gehad.”

Die meisie vertel huilend: “Sy moes gekeer het toe hy haar so skop en trap.

“My mammie het vir die outjie, wat ’n gangster is, ’n R2 gevra om ’n kers te koop.

“Hy het haar geklap. Ons hoor sy het hom toe terug geklap.

“Hy het kwaad geraak en haar erg aangerand.”

Volgens Megan is dit nie die eerste keer dat die betrokke gangster vroue slaan nie. Sy sê sy weet van verskeie vroue wat hy in hulle gemeenskap aangerand het.

Roslyn se oudste dogter, Tamlyn Maart (29), sê: “Ons was heelmiddag gesellig bymekaar. Ons het by die huis gebraai.

“My ma het winkel toe gegaan en dit was nie lank nie, toe kry ons ’n oproep dat sy aangerand is.

“Ons was baie na aan mekaar en sy was baie lief vir haar drie kleinkinders.

“Sy is nie iemand vir moeilikheid nie. Sy het gehou daarvan om mense te terg.”

Volgens Kyle Maart (31), Cornelius se skoonseun, was sy altyd daar vir haar familie.

Maart sê: “Sy het altyd werkies vir die mense in die gemeenskap gedoen. Sy was nie ’n deurmekaar mens nie.

“Die hartseerste van als is dat sy die outjie wat haar so aangerand het, goed geken het.”

Sover is niemand nog vir die aanranding gearresteer nie.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die omstandighede rondom Roslyn se dood nog ondersoek word.

’n Geregtelike doods­ondersoek is geopen. Die cops wag vir die uitslae van die outopsie om te sien wat die presiese oorsaak van haar dood is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters