2 maande gelede
’n Dubbele slag
Fazlin Williams (32) sê die regering het haar as ’n hawelose nog nie teen corona-virus gewaarsku nie.  ~ Peter Abrahams

BERGIES is nog half oningelig oor die virus wat die hele wêreld verlam.

Son het die laaste paar dae met haweloses gaan praat wat in die Kaapse middestad woon.

Van hulle het darem al van die corona-virus gehoor, maar hulle weet nie eintlik watter gevare dit inhou nie.

Jonathan Erasmus skarrel in die Kaapse taxirank.

Maandag nog het hy gesê hy weet niks van die corona-virus nie.

“Ek het nog nie van die siekte gehoor nie,” het hy gesê nadat die Wes-Kaapse minister van vervoer, Bonginkosi Madikizela, sy en ander lede van die publiek se hande met sanitiser gespuit het.

Nog ’n hawelose, Fazlin Williams, sê sy het gehoor van die siekte, maar sy het nie al die details nie.

Williams (32) sê: “Niemand het my daarvan gesê nie. Ek hoor maar net soos mense in die strate van die corona-siekte praat.

“Maar ek weet nie hoe gevaarlik dit is of kan wees nie. Niemand het nog vir ons gesê dat dit baie aansteeklik is nie.

“Ek het geen inligting gekry nie.

“Dis seker omdat ons haweloos is.

“Niemand worry mos oor ons nie.”

Mohamed Musa Piro sê hy het Maandagoggend by die Kaapse taxi rank vir die eerste keer van die corona-virus gehoor.

Piro sê: “Ek het op die pamflette gelees dat dit ’n soort van ’n flu is. Soos ek dit verstaan, moet ’n mens beskermende toerusting hê om jouself te beskerm, want dis baie sterker as die ge­wone flu.

“Maar tot dusver het daar nog niemand na ons toe gekom om ons beskermende toerusting te gee nie.”

Grenwell Hartog (30), ’n car guard wat in Langstraat skarrel, sê hy sukkel nou om geld te maak.

Instap

Hartog sê: “Die strate is leeg. Ons maak mos ons geld deur mense te help park.

“Nou is daar nie meer karre nie en ook nie meer geld nie.

“Ek weet die corona-virus is baie aansteeklik.

“Die enigste plek waar ek sanitiser kry, is wanneer ek by ’n winkel instap.”

HAWELOOS: Mohamed Musa Piro (44) sê niemand het nog vir hom beskermende toerusting gegee nie.

Die Stad Kaapstad se mayco-lid belas met gesondheid, dr. Zahid Badroodien, sê hulle het laas week met die Street People’s Forum en ander rolspelers ver­gader.

Die doel van die meeting­ was om uit te vind wat haweloses van die Stad benodig om die corona-virus die hoof te bied.

Hy sê as deel van die poging om aansteeklikheid onder haweloses te verminder, gaan almal by shelters gescreen word.

Seep sal ook uitgegee word by die shelters en organisasies wat met haweloses werk, sê hy.

Handwasmiddels is ook by die shelters beskikbaar, sê Badroodien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters