3 maande gelede
’n Dubbele onreg
Hartseer: ’n Ma soek steeds antwoorde nadat haar gestremde dogter verlede jaar na bewering by die skool verkrag is.Foto ter illustrasie: Charles Pullen  ~ 

BYNA ’n jaar nadat ’n minderjarige, gestremde meisie na bewering by haar skool in Delft verkrag is, soek haar ma steeds antwoorde.

Die vrou sê haar kind was ’n leerder aan ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes. Die meisie het by geboorte meningitis opgedoen en kan as gevolg daarvan nie praat of loop nie.

Die kind was agt jaar oud toe sy verkragting is.

“Op 20 Mei verlede jaar het die vrou wat ná skool na haar gekyk het my gebel en gesê iets is nie pluis met my kind nie en dat sy so van die skool af gekom het. Ek het haar toe na die daghospitaal geneem, maar hulle het my polisie toe verwys. Toe vat hulle ons Karl Bremer-hospitaal toe.”

By Karl Bremer het ’n dokter bevestig die meisie is wel verkrag en dat sy vantevore ook verkrag is.

Die vrou sê sy het haar kind uit die skool gehaal en moes Khayelitsha toe trek om naby familie te wees wat na haar meisiekind kan omsien.

In Junie verlede jaar het die ondersoekbeampte haar ingelig die saak is gesluit, want haar kind kan nie praat nie.

“Dit wil vir my voorkom of my kind nie regte het nie omdat sy gestrem is. Die regstelsel laat my en my kind in die steek.”

Die vrou sê dit is nie moontlik dat die verkragting plaasgevind het terwyl die kind by die naskoolse dagmoeder was nie omdat net die dagmoeder en ’n vier­jarige seuntjie deur die dag by die huis was.

Die polisie het bevestig ’n klag van verkragting is gelê, maar gesê die saak is teruggetrek.

Sers. Noloyiso Rwexana sê die polisie neem sulke sake baie ernstig op en ondersoek dit altyd deeglik.

Die vrou se werkgewer sê sy het die pad saam met haar werknemer gestap.

“Ons is nog nooit ingelig dat die saak eens die hof gehaal het nie. Die laaste wat ons van die ondersoek­beampte gehoor het, was toe hy ons ingelig het dat daar nie genoegsame bewyse is nie. Maar daar is DNS (spermselle) gevind.”

Die meisie is sedert die voorval uit die skool gehaal. Haar ma sê sy sukkel om haar weer in die skool te kry.

Volgens Sihle Ngobese, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, soek hulle nog na ’n gepaste skool vir haar.

“Die uitdaging is om ’n plek te kry wat geskik is vir iemand met haar soort gestremdhede. Ons kenners kyk na haar saak.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters