14 dae gelede
’n Brief aan haar liefie
FAMILIE: Lt.kol. Charl Kinnear se seuns, Casleigh (links) en Carlisle (regs), staan langs sy vrou, Nicolette.  ~ Peter Abrahams

NICOLETTE Kinnear, vrou van die vermoorde top-speurder lt.kol. Charl Kin­near, het ’n hartroerende brief aan hom opgedra op ’n vraag van Son oor wat sy ná die jongste verwikkelinge in die ondersoek na sy moord vir hom sou sê.

“Hi, my liefie. Waar begin ek? Dis 7 maande sedert jy uit ons lewens geruk is.

“Ek beleef ’n pyn wat ek nooit eens geweet het bestaan nie. Ek kyk na jou begrafnis op YouTube, luister na van die toesprake en wil net skreeu ‘SHUT UP! Bly net stil!’, want ek kan nie nog leë beloftes hanteer nie.

“Dis hof in en hof uit, maar ons mag nie opgee nie, want jy sou nie, jy het nie!

Seer

“Om daar te sit en luister hoe mense planne gemaak het om ons lewens te verwoes. Ten duurste. Wat het ons hulle gemaak, my liefie?

“Wat anders as dat jy net jou werk gedoen het? My hart breek vir die seuns en baie dae is my seer te seer om hulle te help.

“Die ondersoekspan werk hard. Ek hou hulle op hul tone, want kolonel het nie met ’n gemorsery saamgestem nie. Doen die ding die eerste keer reg. Ek weet nie elke dag hoe verder vorentoe nie, maar ek weet jy sou sê: ‘Tree vir tree, my vrou.’

“Ek is so, so trots op jou, my liefie. You were indeed one of a kind. Dankie vir 36 jaar wat ek vir die res van my lewe sal kan onthou.

“Ek weet nie of my hart ooit weer heel sal word nie, want my hartklop is stil, my breëskouer-man is weg.

“Kwaai-babatjie daar buite, maar hier binne tussen ons mure so mak soos ’n lam. Ek moet nou eers weer groet, maar ons praat weer, my liefie, CK. Jou vrou.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters