12 dae gelede
KYK: ‘My kind kom nooit terug’
OUERS: Maronette Booysen en Henry du Toit sit met hulle kind se skoolgoed by hulle.  ~ Jonathan Lestrade

WORCESTER. – Hulle pragkind se lewe is meer as geld werd en hulle meen die boer van wie se bakkie sy geval het, moet boet.

Maar Maronette Booysen, oorlede Henriette (9) se ma, weet niks sal haar kind terugbring nie.

Henriette, van die plaas Boschkloof, is dood nadat sy Sondag van Pieter de Wet (80) se bakkie gespring het.

Sondagskool

Dis nadat De Wet na bewering nie die bakkie wou stop toe Henriette en Ronelda Bosch, haar vriendin, wou afklim nie.

Hulle was op pad huis toe van die Sondagskool toe De Wet hulle ouder gewoonte ’n saamrygeleentheid op die plaasbakkie gegee het.

Die voorval het naby die plaas Six Dogs net buite Worcester gebeur.

Volgens Booysen het iemand hulle geroep en gesê ’n kind lê in die pad.

Sy vertel: “Toe ons daar kom, was dit my kind wat daar lê.

“Haar lippies was blou en ek het dadelik geweet sy’s dood.”

Booysen verduidelik toe hulle op die toneel gekom het, was De Wet nie daar nie.

Hy het ’n ruk later met Kobus, sy seun, daar aangery gekom, vertel sy.

Booysen verduidelik verder: “Hy het nie eens met ons gepraat nie.

“Die polisie moes saam met ons praat.

“Die meisiekind wat saam my kind was, sê toe hulle vir hom sê ‘stop’, toe ry hy al aan.

“Hy het hulle met die honde bang gemaak en gesê hy gaan hulle nou daarheen neem.

“Oor hy hulle die skrik op die lyf gejaag het, het hulle besluit om te spring.

“Dit het vir my gelyk asof sy haar nek gebreek het, want daar was geen merke op haar liggaam nie.

“Sy sou verlam gewees het as sy nog moes gelewe het. Of sy sou erge pyn verduur het.”

Henry du Toit, Henriette se pa, huil by Son se besoek snot en trane oor sy eerste kind.

Sy hande sak moedeloos: “Sy was my alles. Kyk, haar bed staan nou leeg.

“Sy was nie ’n dom kind nie. Ons het haar rapport gaan haal en die skoolhoof het gesê sy het ’n blink toekoms. Kyk in haar rapport – sy slaag.”

Du Toit sê De Wet het na bewering vir die mense gesê hy sal hulle betaal vir hulle verlies.

Hieroor sê hy: “Hy moet liewer bandiet. Geld gaan nie my kind terugbring nie.

Teleurgesteld

“My hart is baie seer.”

Toe Son De Wet op sy plaas gaan soek het, het Kobus, sy seun, gesê hy is erg getraumatiseer.

Kobus sê: “Die arme man. Hy is al oud en hy voel teleurgesteld oor die kind dood is.

“Ons is in kontak met die speurder.”

Kobus het gevra dat Son sy pa ’n kans gee om oor die ergste skok te kom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters