18 dae gelede
Muur tuimel om op brandslaner
BLY BEWUS: Brandbestryders is altyd op die uitkyk vir tekens dat mure of plafonne kan ineenstort, want dit stel hul lewe in gevaar.  ~ Foto Verskaf

’N BRANDWEERMAN het geringe beserings opgedoen nadat ’n muur op Tweede Nuwejaar tydens ’n brand by ’n fabriek in Parow op hom geval het.

Dit het sewe brandweerbeamptes van verskillende stasies geverg om die brand te blus wat by die gebou in Connaughtweg, Cravenby, uitgebreek het.

Die beseerde brandweerman is Sondag uit die hospitaal ontslaan en hy sterk tans tuis aan. Hy behoort teen volgende week weer aan diens sal wees.

Sy identiteit word weerhou om hom toe te laat om tuis te herstel.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste van die Stad Kaapstad, verduidelik: “Beamptes volg standaardprosedures vir verskeie scenario’s. Dit dek brande in wonings, skepe en hoë geboue.”

Breukdeel

Hy voeg by die beamptes is altyd bedag op tekens dat mure of plafonne ineen kan stort, want dit stel hul lewe in gevaar.

“Soms gebeur iets in ’n breukdeel van ’n sekonde.

“Die persoonlike beskermende toerusting wat aan beamptes gegee word, help om ernstige beserings te voorkom.

“Die toerusting sluit in die helms en uitrustings wat die hoë temperature kan weerstaan.”

Carelse voeg by brandweerbeamptes is ook altyd op die uitkyk vir die beste manier om ’n struktuur te benader en waar hulle ventilasie-uitgangspunte kan maak om warm en giftige gasse te laat ontsnap wat in die gebou vasgevang is.

“Die meeste brandweerbeamptes het ook mediese opleiding.”

Hulle kan basiese ambulansbystand bied en weet hoe om gevorderde lewensondersteuning toe te pas.

Volgens Carelse is dit nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het waarin die brandweerman seergekry het nie.

“Die maatskappy se versekering sal ’n ondersoek daarna las.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters