24 dae gelede
Muisgif eis ma, meisiekind
geskok:Dolores Engelbrecht het die nuus by ’n ander buurvrou gehoor.  ~ 

DARLING. – Twee vroue word môre begrawe nadat bure Saterdag hulle lyke gekry het.

Clara Laban (49) en haar ma, Katrina Laban (71), is in hulle huisie in Port Jackson Crescent gevind.

Hoewel hulle môre ter ruste gelê word, sal hulle doodskiste nie eens uit die lykswa gelaai kan word nie. Die twee is vermoedelik in hulle slaap dood nadat hulle gif ingeasem het.

Volgens familielede kon hulle nie eens die lyke deur die vensters by die morgue sien nie.

Foto’s van die toneel is net aan hulle gewys.

Clara het op ’n plaas in Yzerfontein gewerk. Sy het daar muisgif in die hande gekry en dit huis toe gevat om met hulle muisplaag klaar te speel.

kleinsus: Cornelia Laban sê die begranisdiens gaan kort wees.Foto’s: JONATHAN LESTRADE

Muise was – volgens familie en vriende – Clara se grootste fobie.

Delores Engelbrecht (48), ’n buurvrou en een van haar vriendinne, sê sy het die skokkende nuus oor die twee se dood gekry nadat ’n ander buurvrou haar geroep het.

Engelbrecht vertel: “Al wat die neighbour gesê het, is dat Ouma en Clara nie wil wakker skrik nie.

“Ek het toe gedog miskien het hulle­ die vorige aand gedrink, maar daai was nie die saak nie.”

Engelbrecht sê sy het geweet iets groots is fout toe die polisie en forensics opdaag, die pad afsper en die plek fumigate.

Sy vertel: “Ambulans­personeel het na al die huise gegaan en ons gevra of ons kopseer het of naar voel.”

Isak “Sakkie” Laban (47) sê hy kan steeds nie sy ma en ouer suster se onverwagte dood aanvaar nie.

“Almal ken vir Ouma en Clara. Hulle het goeie harte. Hulle het altyd ander mense voor gesit.”

Sakkie vertel toe die vroue gevind is, het sy ma langs die bed op die grond gelê. Sy suster was nog in die kooi.

Volgens die gebroke Sakkie het hulle die gif die volgende oggend op die kombuistafel en op die vloer by die bed gekry.

gifhuisie: Katrina Laban en haar dogter Clara het hulle laaste asem hier uitgeblaas.

Hy verduidelik die gif is in ’n tabletvorm. Dit ontplof om gas te release.

“Hulle het heel moontlik met toe vensters gaan slaap en met daai gif moet daar lug wees.”

Cornelia Laban (32), die ander sussie, sê sy gaan haar ma en ouma se smiles en lag baie mis.

Cornelia het bevestig daar word môre afskeid geneem van Clara en Katrina, maar het beklemtoon dit gaan ’n kort diens wees.

“Ons vermoed dis omdat hulle lyke nog besmet is of omdat hulle liggame deur die gif nie reg lyk nie.”

Dis vir haar ’n swaar tyd, want sy voel die pyn dubbeld. “Ek kan nie eens reg bye sê nie. Die diens sal korter as ’n uur wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters