5 dae gelede
Motoriste met klippe bestook
Bebloed: Een van die slagoffers van klipgooiery op die N2.FOTO’S Verskaf  ~ 

TWEE onskuldige motoriste wat op die N2 naby die Strand beseer is, is na bewering die mees onlangse slagoffers van ongelukkige grondbesetters.

Die beseerdes se karre is Sondagaand in die verbygaan met klippe bestook, sê Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad se Metropolisie.

“Nog ’n persoon se motor is met ’n petrolbom gegooi. Die motoris het die aanval sonder beserings oorleef.”

’n Assistent-lorriedrywer is vir brandwonde behandel nadat ’n petrolbom Saterdag op dieselfde stuk pad geslinger is na die broodlorrie waarin hulle was.

Woensdag is ’n ander vragmotor met ’n petrolbom aangeval, maar die bestuurder het geen beserings opgedoen nie.

Die wetteloosheid is glo die werk van ’n groep mense genaamd Sinqaw’nqawu Camp. Die groep wou in April ’n stuk grond naby Lwandle langs die N2 in die Strand beset. Die grond behoort aan Asla.

Asla het ’n interdik teen die besetters bekom wat hulle verbied het om hulle voete op die stuk grond te sit. Son verneem dat die mense sedert hulle van die grond afgesit is, in twee gemeenskapsale in die Strand woon.

Sedert die aanvalle op die N2 lê hulle laag. Die groep se leiers het ook nie op Son se navrae gereageer nie.

Asla sê hy het deur die media gehoor dat die aanvalle op die N2 voor die groep besetters se deur gelê word.

“Ons verneem daar was ’n voice note wat aan die media gestuur is wat motoriste waarsku,” sê Werner Jerling, uitvoerende hoof van Asla.

Jerling sê die grond is gesoneer vir ’n ligte nywerheidsgebied.

“Jare terug is dit vir ’n skool gesoneer, maar sowat vier jaar terug het die onderwysdepartement dit van die hand gewys.”

Volgens Jerling is die gebied onveilig vir behuising omdat dit langs die besige N2 geleë is.

“Ons het in die begin baie mooi met die ontevredenes gesels en vir hulle verduidelik wat die regte proses is om te volg as hulle huise wil hê.

Deurloop

“Hulle moet hulle tot die departement van behuising wend.

“Dit is nou jammer dat onskuldige mense hieroor deurloop.”

Dyason sê niemand is nog in hegtenis geneem nie vir die naweek se aanvalle nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters