9 dae gelede
Morty wel ’n killer én rapist
DANKBAAR: Inwoners van Elsiesrivier wat die Courtney Pieters-moordsaak gereeld gevolg het, juig gister voor die Kaapse hooggeregshof. Foto’s: PETER ABRAHAMS  ~ 

DIE moord op Courtney Pieters (3) was die wreedaardigste saak wat die hof nog gesien het.

Dít is wat regter Babalwa Pearl­ Mantame in die Kaapse hooggeregshof gesê het toe sy Mortimer Saunders skuldig bevind het aan die moord op en verkragting van klein Courtney.

Verwerp

Die kind se lyk is op 13 Mei 2017 tussen vullis in die Epping-nywerheidsgebied gevind. Sy het op 4 Mei 2017 vermis geraak.

Mantame het Saunders se weergawe van wat gebeur het, gister verwerp.

“Hy sê hy was kwaad vir Juanita Pieters (Courtney se ma) en het besluit om Courtney te vergiftig om só vir Juanita terug te kry.

Courtney PietersFOTO VERSKAF

“Maar Courtney was nie net Juanita se kind nie. Sy was ook die kind van Aaron Fourie, Saunders se beste vriend. Sekerlik moes hy geweet het sy dade sou ook sy vriend skade aandoen.”

Saunders het ’n kamer by Fourie gehuur. Hy was met verlof toe Juanita haar twee minderjarige kinders by die huis gelos het.

Mantame het gesê daar was ’n verhouding van vertroue tussen Saunders en Courtney.

“Sy het gereeld in sy kamer gaan TV kyk – met of sonder sy dogter, wat ook haar vriendin was.

“Hy het haar vertroue misbruik deur die misdade met die kind te pleeg.”

Mantame het bygevoeg Saunders het dié oggend genoeg tyd gehad om sy duistere planne met die kind uit te voer.

Mang toe: Mortimer Saunders in die hof, waar hy aan moord en verkragting skuldig bevind is.

“Hy lieg as hy sê hy wou net die kind siek maak deur haar die miergif in te jaag.

“As dít die geval was, het hy haar nie so ’n groot hoeveelheid ingegee nie.

“Kenners het getuig die gif sou nie noodwendig tot haar dood lei nie. Hy kon enige tyd omdraai en die kind liewer help.

“Pleks daarvan het hy gekyk hoe sy ’n pynlike maar stadige dood sterf toe hy haar mond toedruk en haar met sy hande wurg.”

Mantame het bevind die moord was voorbedag.

Sy het gesê Saunders lieg ook oor die verkragting. Hy het in sy pleitverduideliking aangevoer hy’t net drie van sy vingers in haar geslagsdele gedruk.

“Semen is diep in haar vagina gevind.

JUANITA PIETERS

“Sy het skeure en kneusplekke aan haar geslags­dele gehad. Verder was daar bloed aan haar vagina, panty en denimbroekie.

“Die teenwoordigheid van die bloed dui daarop dat sy wel gelewe het toe sy seer­gemaak is.

“En as hy net sy vingers op die kind gebruik het, hoekom was haar broekie en panty tot by haar voete afgetrek toe sy gevind is?”

Mantame het prof. Johan Dempers, staatspatoloog, ook aangehaal.

“Dempers het getuig dat vingers nie ejakuleer nie, maar penisse wel. Courtney is dus met ’n penis verkrag voordat sy dood is.”

Sy het ook dr. Steve Naidoo se getuienis verwerp en gesê hy het die rol van ’n advokaat ingeneem en só getuig dat dit by Saunders se weergawe sou inpas.

Die hof het gehoor Juanita kon vir verwaarlosing van haar kinders aangekla word omdat sy hulle sonder toesig gelaat het.

“Maar die hof verstaan dat die sosio-ekonomiese toestande haar gedryf het om te doen wat sy gedoen het. Sy het ook berou getoon.

“Dis jammer dat Courtney met haar lewe geboet het oor haar besluit.”

Die saak sal op 4 Desember weer voor die hof wees.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters