Verlede maand
Moordsaak sloer steeds
TONEEL: Orderick Lucas se erg ontbinde lykie is twee jaar gelede in ’n drein ontdek.  ~ Jonathan Lestrade

DIE gemeenskap van Eersterivier sal nóg moet wag om te hoor wat die aand van Orderick Lucas se verdwyning gebeur het en wat tot sy dood gelei het.

Dit volg nadat Melvin Volkwyn se verhoor in die Kaapse hooggeregshof gister weer met ’n week uitgestel is.

Die staat voer aan dat Volkwyn vir Orderick (1) sowat twee jaar gelede ontvoer, vermoor en toe sy lyk in ’n drein gedump het.

Orderick se ontbinde lyk is op 2 April 2019 in ’n drein om die draai van sy ouma se huis gevind.

Hy was nege dae vermis en is laas onder Volkwyn se toesig gesien.

Orderick se ma, Davideen Lucas, was koptjommies met Volkwyn en hulle het saam dwelms gebruik.

Sy het die kind op 24 Maart in Volkwyn se sorg gelos toe lede van die gemeenskap haar wou pak gee oor ’n gesteelde foon.

Oorsaak

Hy het haar die volgende dag ingelig dat hy die kind na haar ma toe geneem het. Toe sy drie dae later by haar ma uitkom, het sy uitgevind die kind word vermis.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die na­sionale vervolgingsgesag, staan Volkwyn net op moord tereg.

Die staat kon nie twee jaar gelede vasstel wat die oorsaak van Orderick se dood was nie omdat sy lyk erg ontbind was toe dit gevind is.

Die lykskouingsverslag is toe verwys na ’n senior patoloog, prof. Johan Dempers, vir ’n tweede opinie.

Son verneem die saak is gister uitgestel omdat Volkwyn se lawyer weens dringende familieverantwoordelikheid nie teenwoordig kon wees nie.

Die saak dien Maandag weer in die Kaapse hoog­geregshof.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters