7 maande gelede
Moord op ma 'n mystery
MOORDHUIS: Gail van As is hier in haar woning vermoor.  ~ Melinda Stuurman

N GROOT mystery hang om die moord van ’n jong ma van Eersterivier wat in haar huis dood gevind is.

Eers is daar gesê Gail van As is vermoedelik met ’n krieketkolf doodgeslaan.

Maar sers. Phole­lwa Njara, ’n polisiewoordvoerder, sê Van As het ook skietwonde gehad.

“Ons het Maandag omstreeks 10:30 ’n klag van ’n voorval in Hakeastraat in Somerset Heights in Kleinvlei gekry.

“By die polisie se aankoms het hulle ’n vrou met skietwonde aangetref. Sy was reeds dood.”

Niemand in die buurt het egter enige skote gehoor afgaan nie.

By Son se besoek Dinsdag was die huis verlate en die hele Hakea­straat doodstil. ’n Buurvrou het vertel dat Van As saam met haar twee seuns, haar kêrel en nog “boarders” gewoon het.

“Ek het gisteroggend ’n geraas van die huis gehoor. Toe ek uitgaan, het die boy­friend uitgekom.

“Hy het geskree: ‘Gail is dood!’ ”

’n Ander buurvrou, wat eers niks wou sê nie, het genoem dat Van As ’n kerkvrou was.

“Haar familie kom van Gauteng, maar sy het mense in die Strand. Die kerkmense het haar familie oor haar dood ingelig.”

In die sosiale media gis dit ook.

Een van Van As se vriende sê sy het ’n groot hond gehad en haar hek was altyd gesluit. Die vriendin sê hulle moet almal on­dersoek wat in die huis gebly het.

Nog ’n bron sê Van As se boyfriend was Maandag vir ’n interview. Toe hy by die huis kom, het hy op haar lyk afgekom.

Van As se kinders is in die sorg van hulle oupa Roberts aan hulle pa se kant geplaas.

Roberts het Son na die polisie verwys.

“Gaan polisie toe en skryf wat hulle sê. As familie wil ons niks sê nie.”

Julian Untang van die Kleinvlei-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê: “Tik is nog een van die grootste euwels in ons woonbuurt. Dit lei tot soveel ander misdade.

“As gemeenskap moet ons opstaan teen dwelms en uitpraat. As mense nie met die polisie wil praat nie, kan hulle altyd met die GPF kom praat.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters