8 dae gelede
Moord in cop shop
dood: Die lyk van ’n onbekende man lê gister in die Mfuleni-polisiekantoor nadat ’n metro cop drie skote afgevuur het. FOTO’S verskaf  ~ 

DIE laaste plek waar jy verwag ’n moord sou plaasvind, is binne ’n polisiestasie.

Tog is dit presies wat gisteroggend in die Mfuleni-polisiestasie gebeur het toe ’n man doodgeskiet is.

’n Metropolisielid het ’n baie aggressiewe man doodgeskiet nadat hy die cop met ’n mes gedreig en in die arm gesteek het. Hy het ook die cop in die bors probeer lem.

Konst. M. Mabulu, die metropolisielid, het gereageer deur sy dienspistool uit te pluk en drie skote af te vuur.

Volgens ’n ingeligte is die suspect op die toneel dood.

Die informant het vertel: “Konstabel Mabulu is in die Mfuleni-polisiestasie aangeval.

“Die verdagte het die konstabel in die voorarm gelem.

“Die ou het hom ook twee keer in die bors probeer steek.

“Die beampte het noodgedwonge gereageer, sy vuurwapen uitgepluk, drie skote in die rigting van die verdagte afgevuur en hom in die bors getref.

“Hy is op die toneel in die aanklagkantoor dood verklaar.”

Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, het gesê die voorval is baie skokkend.

Hy het bygevoeg: “Ek is seker die SAPD sal vasstel wat die feite van die voorval is.

“Ons sal graag wil weet wat gebeur het.

“Dis ’n voorval wat nooit moes plaasvind nie.”

Die Stad Kaapstad se mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit, JP Smith, het bevestig die voorval het gister omstreeks 11:30 gebeur.

Volgens Smith het Mabulu ’n dossier by die polisiestasie geregistreer toe die onbekende man by die cop shop aangekom het.

Smith het gesê: “Die man het onrustig voorgekom en het aangedui hy wil gearresteer word.

“Hy het omgedraai om met Mabulu te praat en toe ’n mes uitgepluk en die beampte gesteek.

“Die beampte het sy vuurwapen uitgehaal en drie rondes afgevuur.

“Die verdagte is noodlottig getref.”

Smith het gesê twee lede van die publiek is gewond toe koeëls hulle getref het.

Volgens Smith het die metropolisielid in die Melomed Bellville-hospitaal behandeling gekry en een van die lede van die publiek is in die Tygerberg-hospitaal opgeneem.

Hy het bygevoeg Mabulu sal berading van die Stad se ondersteuningsprogram vir werknemers kry.

Die SAPD sowel as die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die voorval.

“Die Stad sal op alle moontlike maniere help om te verseker dat die ondersoek bespoedig word,” het Smith gistermiddag verseker.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters