2 maande gelede
‘Moed dra ons deur uitdaging’
TROTS: Dr. Beryldene Swartz sê hulle kom met spanwerk deur dié moeilike tye van Covid-19.  ~ Tracy-Lynn Ruiters

DAAR sal seker movies geskiet en boeke geskryf word oor hoe frontline-werkers deur die corona-virus in 2020 gekom het.

Terwyl ons nog hier is, doen ons dit sommer nóú.

Dis hoekom Son die inisiatief geneem het om ’n bietjie by die werkers by die Lentegeur Psigiatriese Hospitaal in Mitchells Plain te gaan uitvind hoe hulle tot dusver met die pandemie en lockdown gecope het.

Waaksaam

Terwyl almal se fokus tydens die pandemie op die algemene frontline-werkers is, word hierdie werkers dikwels misgekyk.

Dr. Beryldene Swartz, die CEO van die hospitaal, verduidelik aan Son dat werkers altyd waaksaam moes wees om deur die dag te kom.

“Hoewel dit ’n uitdagende tyd is vir almal wat by die hospitaal werk, dra durf en ondersteuning ons deur.

“Dis ongelooflike harde werk. Die pligsgetrouheid en courage het die beste uit soveel gesondheidsorgverskaffers gebring.”

Swartz voeg by daar was wel uitdagings, maar sy is bly om te sê dat die werkers hulle nie hierdeur laat onderkry het nie.

“Ons moes altyd waaksaam wees met ontsmetting en die gebruik van PPE. Terselfdertyd moet ons omsien na pasiënte wat erg versteurde of selfs aggressiewe gedrag getoon het.”

Daar is egter ’n oplossing vir elke probleem.

Met die aanvang van die nasionale lockdown in Maart het gesondheidswerkers by dié hospitaal alles gedoen om seker te maak pasiënte voel nie alleen en uitgesluit nie.

Swartz verduidelik dat die hospitaal sy telefoniese kontak met pasiënte se familie­lede verhoog het.

Volgens Swartz het die pandemie ook goeie dinge vir die werkers meegebring, soos om te groei as ’n span, asook persoonlik.

“Ons moes ons vrese oorkom terwyl ons steeds daadwerklik en met sorg gereageer het.

Bekommernisse

“Die personeel het dit bereik deur buitengewone spanwerk en ondersteuning vir mekaar.

“Hulle het tyd geneem om mekaar se vrese en bekommernisse te erken en steeds op hul roeping te reageer en elke persoon te laat verstaan hoe spesiaal dit was om dit te doen.”

Swartz sê die key in die hele proses was dat personeellede altyd vir mekaar gesorg het.

“Almal het seker gemaak dat hulle altyd vir mekaar beskikbaar was en hard gewerk om seker te maak dat almal voor gesorg is, want dit was vir almal nuut.

“Die personeel het geleer terwyl hulle aangaan.”

Swartz voeg by dat 149 van hul pasiënte die virus opgedoen het.

“Van hierdie totaal het 142 van die pasiënte herstel, maar 7 het ongelukkig gesterf. Ons het ook twee werkers as gevolg van die virus verloor.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters