Verlede jaar
Modack-wag tuis vermoor
dikding: Carl Lakay het as ’n wag vir Nafiz Modack (bo) gewerk.Foto’s: peter abrahams  ~ 

’N SECURITY guard van die vermeende onderwêreld-dikding Nafiz Modack is Sondagaand voor sy huis doodgeskiet.

Carl Lakay (45) was juis op pad na een van die nagklubs in Langstraat in Kaapstad toe hy vermoor is.

Dié skietvoorval het in Paarlstraat, Goodwood, gebeur.

Lakay het voor sy dood saam met Modack, Colin Booysen, Jacques Cronje en Ashley Fields tereggestaan op nege aanklagte van afpersing en intimidasie.

Lakay se skietdood kom kort ná die skietaanval op Jerome “Donkie” Booysen Woensdag in die Spur in die Soneike Mall in Kuilsrivier.

Mark Lifman, ’n omstrede sakeman, en Booysen is glo vennote. Volgens beweringe baklei Lifman en Booysen al die afgelope jaar teen Modack vir beheer van die nagklub-sekuriteitsbedryf.

Lakay het Sondagaand pas in sy rooi Hyundai geklim en was nog in die oprit van sy huis toe die skieters op hom losgebrand het.

Volgens ’n inwoner wat anoniem wil bly, het Lakay se vrou en kind uit die huis gestorm nadat hulle die skote gehoor het.

Die inwoner het vertel: “Sy vrou het flou geval toe sy sien hy is doodgeskiet. Sy kind het ook histeries gehuil.” By Son se besoek aan die familie het een van die familielede gesê hulle wil glad nie met die media praat nie.

Rushdeen Rudolf, Lakay se prokureur, het aan Son gesê die beplande roekelose, koue daad wat tot Lakay se dood gelei het, is rou en pynlik.

toneel: Carl Lakay is in dié motor doodgeskiet. Foto’s:melinda stuurman
Carl Lakay

Rudolf het gesê: “Sy dood word onvoorwaardelik met vrede aanvaar.

“As sy regsverteenwoordiger het die familie aan my instruksies gegee om nie enige verdere kommentaar te gee nie.”

Kurt Swile, een van Lakay se kollegas, het op Facebook geskryf hy gaan hom baie mis.

Swile se inskrywing lui: “Rus in vrede Carl (security) Lakay.

“Ek het saam met jou in baie nagklubs in en om Kaapstad gewerk en jy het altyd uitgekyk vir my.

“Dit is ’n hartseerdag vir die nagklubbestuur en personeel in Kaapstad.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die omstandighede rondom ’n skietvoorval Sondag omstreeks 20:30, waarin ’n man (45) doodgeskiet is terwyl hy in sy kar gesit het, word steeds ondersoek.

Van Wyk het bygevoeg: “ ’n Moordsaak word ondersoek.

“Enigeen met inligting oor hierdie noodlottige skietvoorval, word gevra om Crime Stop by 08600 10111 of die Goodwood-polisiestasie te skakel.”

Volg Bohemia Hoffmeester op Twitter.

Stuur enige nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters