13 dae gelede
Modack en kie net die begin, sê Cele
Minister Bheki Cele het Maandag se hofverrigtinge bygewoon.  ~ Argief

ARRESTASIES soos dié van Nafiz Modack, Ricardo Morgan en Jacques Cronjé is net die begin van die polisie se pogings om georganiseerde misdaad in die Wes-Kaap vas te vat.

Só het die minister van polisie, Bheki Cele, Maandag buite die landdroshof in Kaapstad belowe. Cele het vroeër hofverrigtinge bygewoon toe Modack, Morgan en Cronjé op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord en rampokkery verskyn het. 

Cele sê hulle sal voortgaan om toe te slaan op sulke kriminele sindikate en dat sulke arrestasies wys die polisie is reg vir die taak.

"Dit is bevredigend om die vordering van die nasionale taakspan te sien wat ingebring is om dié saak en ander met bande aan georganiseerde misdaad op te los. Met die ekstra hulpbronne wat ingespan is om misdaad te beveg, is ek seker ons sal die provinsie eendag stap vir stap normaliseer," sê Cele. 

Cele het ook sy mening gelig oor die arrestasie van 'n polisiebeampte.

'n 39-jarige sersant van die polisie se taktiese reaksiespan is die naweek gearresteer nadat hy na bewering inligting aan die onderwêreld gelek het.

"Om 'n polisiebeampte te wees is 'n eerbare werk, maar as jy kies om aan die misdadigers se kant te wees, is jy nie meer deel van ons nie. Dit was sy keuse om vir die onderwêreld teen sy eie kollegas te werk en as hy skuldig bevind word, moet hy met die nagevolge van sy beweerde misdade saamleef."

Luidens 'n polisieverklaring bestaan die moontlikheid dat Modack, Morgan en Cronjé binnekort met ander ernstige en gewelddadige misdade verbind word soos ondersoeke na aktiwiteite in die kriminele onderwêreld voortduur.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters