13 dae gelede
Modack, 2 net vlugtig in hof
GROOTBAAS: Die polisieminister, Bheki Cele, spreek ná afloop van die hofverrigtinge die media toe.  ~ Peter Abrahams

GEEN borgtog.

Die staat sal na verwagting in die saak teen die vermeende Kaapse onderwêreld-baas Nafiz Modack en twee ander hul bail-aansoek teenstaan.

Modack (39), Jacques Cronjé (50) en Ricardo Morgan (36) het gister vlugtig in die Kaapstad-landdroshof verskyn.

Hulle is Donderdag in Century City in hegtenis geneem ná ondersoeke na voorvalle van afpersing van eienaars van posh restaurante, hotelle en nagklubs.

Afluister

Die drie mans staan tereg op klagte van intimidasie, menseroof, afpersing, geldwassery en die oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies, wat verband hou met die afluister van selfoongesprekke.

Hulle het gisteroggend onder sterk polisiebewaking by die hof aangekom.

Die swaargewapende cops was ook binne die hofsaal teenwoordig tydens die kort hofverskyning. Modack en Morgan staan verder tereg vir poging tot moord op die lawyer William Booth.

Op die klag van intimidasie, word Modack (beskuldigde 1) en Cronjé (beskuldigde 2) daarvan verdink dat hulle Sameer Vallie naby die Crystal Towers-hotel in Century City geïntimideer het.

Dié beweerde voorval het luidens die klagstaat omstreeks 9 Maart 2020 plaasgevind.

Die klag van ontvoering spruit uit dieselfde voorval waar Modack en Cronjé na bewering Vallie by die einste Crystal Towers gedreig en in ’n raadsaal aangehou het totdat Vallie ’n skulderkenningsbrief onderteken het dat hy ene Shanil Maharaj R600 000 skuld.

Vallie is luidens die klagstaat toe daar en dan gedwing om ’n elektroniese betaling van R90 000 aan ’n ander beskuldigde te maak.

Klagte van afpersing en geldwassery vorm luidens die klagstaat deel van Modack en Cronjé se beweerde interaksie met Vallie.

Die staat voer in sy klagstaat aan dat Modack, Cronjé en Morgan Artikel 6(a), (b) en/of (c) van die Poca-wet oortree het.

In hierdie stadium stippel die klagstaat egter nie uit wat presies Morgan se betrokkenheid was nie.

Ná die drie se verskyning het die polisieminister, Bheki Cele, buite die hof gesê nóg klagte sal by die klagstaat gevoeg word. Hy het melding gemaak van die moord op lt.kol. Charl Kinnear, wat laas jaar buite sy huis in Bishop Lavis in ’n beweerde sluipmoord afgemaai is.

Cele sê: “Die Wes-Kaap moet genormaliseer word soos die ander provinsies.”

Dit het ook in die hof uitgekom dat ’n polisieman, ’n lid van die taktiese reaksie-eenheid, by die onderwêreld se dealings betrek word. Dié 39-jarige is oor die naweek gearresteer en sal na verwagting vandag in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.

’n Valke-woordvoerder, kol. Katlego Mogale, sê die vermeende korrupte cop is ’n lid van die eenheid teen bendes en het blykbaar onderwêreld-figure gehelp om die teenbende-eenheid en die taktiese reaksie-eenheid te infiltreer deur aan hulle operasionele inligting te gee.

Verset

Cele sê hierdie cop is nie meer een van hulle as die SAPD nie en hy moet so behandel word.

’n Woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, sê Modack staan tereg op verdere klagte wat spruit uit sy arrestasie Donderdag. Dit is poging tot moord, roekelose bestuur en verset teen arrestasie.

Die saak is tot Vrydag vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters