Verlede maand
Mitchell kyk nog baie fyn
Oë op hom: Die taxi-verenigings sowel as pendelaars wag nou op die Wes-Kaapse minister van vervoer, Daylin Mitchell, se besluit.  ~ Anele Mfazwe

DIE Wes-Kaapse minister van vervoer, Daylin Mitchell, oorweeg nog die voorgestelde ooreenkoms wat ’n einde kan bring aan die oorlog tussen die provinsie se twee grootste taxi-verenigings.

Mitchell moet egter die ooreenkoms goedkeur voordat dit enige wettige krag dra.

Mitchell het Dinsdag die dokument in ontvangs geneem wat deur die UDM-leier, Bantu Holomisa, en Zwelinzima Vavi­, die sekretaris-generaal van die South African Federa­tion of Trade Unions (Saftu), beding is.

Dié twee politicians het die afgelope naweek met Cata en Codeta vergader om ’n moontlike oplossing te probeer vind.

Alles hang egter nou van Mitchell af.

Mitchell se woordvoerder, Ntomboxolo Makoba-Somdaka, het gesê die minister was gister nog besig om die inhoud van die dokument te bestudeer.

Makoba-Somdaka sê Mitchell sal ’n persverklarings uitreik sodra hy die aanbevelings in die dokument behoorlik bestudeer het.

Ontwrig

Intussen is daar nog geen taxi-geweld vandeesweek aangemeld nie.

Taxi-dienste word egter nog deur gevalle van intimidasie ontwrig.

Mitchell het vandeesweek die taxi-roetes tussen die Paarl, Mbekweni en Bellville gesluit.

Hierdie roetes is die wortel van die konflik tussen Cata en Codeta.

Volgens Mitchell is daar nou ’n busdiens tussen Mbekweni en Bellville as alter­natiewe vervoer vir taxi-pendelaars.

Hy sê verder taxi-dienste in areas soos Nyanga, Khayelitsha en Langa is steeds beperk. Dit spruit uit die sluiting van die Bellville-staanplek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters