28 dae gelede
‘Miskraam’ uit hospitaal ontslaan
Wonderwerk: Grace kon huis toe gaan saam met haar mammie, Jacqueline Petro. FOTO VERSKAF  ~ 

’N WONDERWERK!

Ná 116 dae in die hospitaal kon baba Grace Petro uiteindelik Saterdag huis toe gaan.

Baba Grace is op 27 Mei, ná 24 weke en 6 dae, gebore.

Dié premature babatjie het slegs 500 g geweeg. Haar kans op oorlewing was baie skraal.

“Ek het Grace aanvanklik gegroet, aangesien sy as ’n miskraam geklassifiseer was en nie ná die geboorte asemgehaal het nie,” het haar ma, Jacqueline Petro, gesê.

Die mediese span het egter nie moed opgegee nie en geveg om baba Grace te red. Ná berading en ’n bietjie slaap, is Petro in kennis gestel van die wonderwerk dat haar baba asemhaal.

Ingeroep

“Al wat ek kon doen, was om te huil. Ek was in totale skok,” onthou Petro.

Maar sewe dae later het die dokters haar ingeroep – weer met die nuus dat haar baba dit nie gaan maak nie.

“Ek het vir die dokter gesê om my baba vir my te gee en ek het haar op my bors gesit en vir die Here gesê as Hy haar wil neem, moet hy dit nóú doen, want Hy sal môre nie weer hierdie kans hê nie.

“Hierdie jaar was moeilik, maar ek is dankbaar vir al die goeie dinge wat gebeur het,” het Petro gesê.

Saterdag was daar groot blydskap vir al die personeel in die neonatale eenheid in die George-hospitaal toe baba Grace ontslaan is.

Oorleef

Volgens die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement getuig haar oorlewing van die waarde van die drie pilare van goeie basiese neonatale sorg. Hulle is: ’n warm broeikas gekombineer met kangaroesorg, veilige suurstofterapie met hoëvloeiende suurstof in die neus, en borsmelk.

“Grace se kans op oorlewing was minder as 20%. Sy is die een uit vyf wat oorleef het.

“Haar pad vorentoe is nog lank. Ons sal voortgaan met opvolg-afsprake in ons hoërisiko-kliniek. Hulp sal verskaf word deur ons arbeidsterapiespan, gelei deur Desiree van der Vyver,” sê die departement in ’n verklaring.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters