6 dae gelede
Mishandelaars kry 5 jaar elk
GEEN BORGTOG: Inwoners van Eureka Estate het destyds voor die Goodwood-landdroshof met plak­kate betoog teen borgtog vir die beskuldigde.  ~ Foto Verskaf

“IN DIE vervolg sal ek nie betrokke raak by ander mense se kinders nie ... Maar wat van my? Ek het kinders.”

Só het Ursula Pace gister in die Parow-streekhof getuig net voordat sy vyf jaar tronkstraf opgelê is vir kindermishandeling.

Pace se regsverteenwoordiger het haar gevra of sy dit sal aanvaar as die hof beslis dat sy nie geskik is om na kinders te kyk nie.

“As die hof dit besluit, dan is dit reg so. Ek sal nie betrokke raak by ’n crèche of enige iets soos dit nie,” het sy aan die hof gesê.

Pace (32) en haar vriendin en medeveroordeelde (27), wie se naam nie genoem mag word nie omdat sy verwant is aan die slagoffer van kindermishandeling, is gister albei in die hof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Son het voorheen berig dat Pace in 2019 by haar huis in Craigstraat, Eureka­ Estate, gearresteer is – aanvanklik op ’n klag van ernstige aanranding. Die biologiese ma is in ’n latere stadium ook gearresteer.

Pace het na bewering na haar vriendin se tweejarige dogter omgesien, maar die kindjie se ma en Pace het haar mishandel en verlate gelos.

Son het ook destyds berig ’n buurvrou, Debbie van Rensburg, het die kind gaan haal nadat mense haar gevra het om die kind te gaan red oor sy die vorige dag so baie gehuil het.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, is die twee jare lange vriende.

“Die kind is op 20 Februarie 2019 deur ’n lid van die gemeenskap, Deborah van Rensburg, gered.

“Die polisie is ingelig en die kind is na die hospitaal geneem vir mediese hulp.

“Die uitslae het getoon dat die tweejarige bytmerke, kneusplekke, skaafplekke en brandmerke aan haar lyf gehad het,” sê Ntabazalila.

Hy sê die beskuldigde is vrygespreek op klagte van verkragting, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, aangesien daar geen direkte getuienis was wat die beskuldigde met die aanklagte verbind het nie.

In gisteroggend se hofverrigtinge het die biologiese ma aan die hof gesê sy is die ma van twee kinders en sy sal nooit ander mense se kinders seermaak nie.

Die hof het gereageer en gesê sy hét – volgens die bewyse – dan haar eie kind seergemaak.

Blaam

Die hof het verder aan die veroordeelde misdadigers gesê hulle is albei eerste oortreders met kinders en hulle was reeds vir twee jaar in aanhouding.

Maar die hof het die biologiese ma hard geslaan deur haar mee te deel sy moet die blaam vat vir dit wat haar kind moes deurmaak.

“As alle ma’s hulle só moet gedra, is dit beter om kinderloos te wees. Diere hanteer hul kleintjies beter.”

Die biologiese ma is tot vyf jaar vir kindermishandeling en vyf jaar vir kinderver­lating gevonnis. Die vonnisse is gelyklopend en sy sal effektief vyf jaar tronkstraf uitdien.

Pace is tot vyf jaar gevonnis vir kindermishandeling. Die hof het aan haar gesê dat sy binne 10 maande vrygelaat kan word vir goeie gedrag.

Die hof het ook bevind dat die ma en Pace nie geskik is om met kinders te werk nie én hulle mag nie vuur­wapens besit nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters