2 maande gelede
Minister worry oor ál meer kids ontvoer word
Debbie Schafer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: Foto24  ~ 

DIE minister van onderwys, Debbie Schäfer, is bekommerd oor daar al hoe meer sake aangemeld word van leerders wat ontvoer is.

Schäfer sê hulle het gehoor van ’n gr. 9-leerder wat op 23 Augustus ontvoer is terwyl sy op pad skool toe was.

Dié meisie van Steenberg is deur mans in ’n wit BMW gedruk en moes ure lank op en af saam met hulle ry.

Sy is ook verkrag.

Schäfer sê: “Dít wek kommer vir ons leerders, veral die meisies wat alleen skool toe loop.”

Die saak is by die Steenberg-polisie aangemeld en die meisie het mediese hulp ontvang.

’n Maatskaplike werker en sielkundige by die skool bied tans berading aan die leerder en haar familie.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê die Steenberg-polisie ondersoek ’n verkragtingsaak.

Vrygespring

Ondersoekbeamptes van die eenheid wat gemoeid is met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksoortredings (FCS) ondersoek ook die voorval. Niemand is gearresteer nie.

In ’n ander voorval het ’n leerder van die Preprimêre Skool Milnerton ontvoering vrygespring toe sy saam met haar ma by Canal Walk was.

Die skool se hoof, Lindsay Pretorius, het ’n brief uitgestuur waarin sy leerders teen dié gevare waarsku.

Volgens Pretorius was die kind in die badkamer toe ’n onbekende vrou foto’s van haar begin neem het.

Pretorius se verklaring lui: “Die ma het paniekbevange geraak toe sy na haar kind begin soek.

“Sy het in die spieël gesien hoe die vrou aan haar kind se skouer vat en begin foto’s neem.”

  • Enigeen met inligting wat met die ondersoeke kan help, kan die Stop Misdaadlyn by 0800 10111 bel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters