Verlede maand
Minister tevrede met jabs
GEE RIGTING: Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, meen dit is eintlik heeltemal onnodig dat die provinsies hul eie entstowwe verkry.  ~ Anele Mfazwe

DIE nasionale minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, is tevrede met die Wes-Kaap se in­entingsplan.

Mkhize het dié provinsie gister besoek en ’n inentingslokaal by die Lentegeur-hospitaal besigtig.

Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het hom by dié hospitaal vergesel voordat hy die media toegespreek het.

Mkhize het op die perskonferensie gesê dis nie nodig vir provinsiale regerings om hul eie vaccines te verkry nie.

Hy meen die nasionale regering sal in die komende weke genoeg entstof ontvang.

Winde sê al die laaste paar maande die Wes-Kaapse regering­ is besig om sy eie entstof te verkry.

Volgens Mkhize is die Wes-Kaapse regering bekwaam genoeg om met die tweede fase van die inenting te begin.

Die tweede fase van die vaccination skop na verwagting vanaf 17 Mei af en sal dan tot in die middel van Oktober duur.

In fase twee gaan sowat 16 miljoen mense na verwagting die inspuitings kry.

Dié fase van die inenting is spesifiek op bejaardes van 60 jaar en ouer gefokus.

Vertraag

“Dit is die mense in dié kategorie wat meestal ’n hoë risiko loop, want hulle het ander onderliggende mediese kwale,” sê Mkhize verder.

Hy sê ook die risiko van ’n derde golf besmettings bestaan nog. Dit hang egter van die algemene publiek af om dit te vertraag.

Mkhize sê: “Ons kan eintlik die hele ding ver langer vertraag.

“Teen die tyd wanneer dit kom, kan dit moontlik kom wanneer baie meer mense hul inenting gekry het – ’n baie beter situasie.

“Daar is egter geen spesifieke tyd wat al uitgewerk kon word wanneer ’n derde golf te wagte kan wees nie.”

Volgens Mkhize sal die Johnson & Johnson-inentingsprogram na verwagting hervat word.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) die gebruik van dié entstof weer die groen lig gegee het.

Volgens Mkhize sal die roll-out van die Pfizer-entstof na verwagting volgende week in die land afskop.

Die land gaan na verwagting sowat 30 miljoen dosisse van die Pfizer-entstof in die tweede fase kry en sowat 31 miljoen van die Johnson & Johnson-entstof.

Gemaklik

Mkhize sê ook: “Die Wes-Kaapse inentingsplan is in lyn met die nasionale plan.

“Ek is daarmee gemaklik dat dit alle areas sal bereik. Ek is tevrede met die plan.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters