9 dae gelede
Minder mense dood op paaie
WRAK: Minder mense het vanjaar gedurende die Paasnaweek op die Wes-Kaap se paaie in ongelukke soos dié gesterf.  ~ Foto Verskaf

MINDER mense het die afgelope Paasnaweek op paaie in die Wes-Kaap gesterf vergeleke met 2019.

In 2020 was daar ’n harde lockdown weens die corona-virus en bitter min mense was toe op die paaie.

Volgens die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, Bongi­nkosi Madikizela, het 25 mense vanjaar gesterf. In 2019 het 38 mense op die paaie gesterf.

“Dis prysenswaardig, veral as ’n mens dink dat daar baie voertuie op die paaie was.

“Ons streef daarna om konsekwent te wees om wette toe te pas en ons tree sterk op teen mense wat die padreëls oortree.

“Sedert ek die veiligheidsplan vir die Paasnaweek bekend gestel het, het die provinsie se verkeersdienste van 1 tot 5 April 240 padblokkades, voertuig-checkpoints en spoedkontrole-operasies regoor die provinsie gehou.

Onpadwaardig

“Altesame 19 707 voertuie is gestop en deurgekyk. Ons het 2 016 spoedoortredings aangemeld en 6 145 boetes is uitgereik vir verskeie verkeersoortredings.

“Die bedrag staan op R4 171 250.

“Ons het beslag gelê op 13 voertuie en 68 kon nie verder ry nie omdat hulle onpadwaardig was.”

Volgens Madikizela is die vinnigste spoed wat gemeet is, iemand wat 183 km/h gery het.

Die 25 mense wat in 23 ongelukke gesterf het, was 8 bestuurders, 2 motorfietsryers, 2 passasiers en 13 voetgangers.

Altesame sewe mense is ook in dié tyd weens dronkbestuur gearresteer.

Intussen het die Stad Kaapstad se wetstoepassingsagentskappe die afgelope week 298 mense weens verskeie oortredings gearresteer.

Volgens JP Smith, die mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit, is minstens een derde van die motoriste vir dronkbestuur of roekelose en nalatige bestuur gearresteer.

“Die Stad se wetstoepassingsagentskappe het laas week 298 arrestasies uitgevoer waarvan minstens ’n derde vir dronkbestuur of roekelose en nalatige bestuur was.

“Kaapstad se verkeers­beamptes het 100 mense – 43 vir dronkbestuur en 36 vir roekelose en nalatige bestuur – gearresteer,” sê Smith.

Volgens Smith het die metropolisie 89 mense gearresteer vir die besit van dwelms, kontakmisdade, beskadiging van eiendom en 11 vir dronkbestuur.

Wetstoepassing het 109 mense in hegtenis geneem vir oortredings soos die besit van dwelms, die besit van gevaarlike wapens en metaaldiefstal.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters