9 dae gelede
Mihalik ‘Maai toe wat hy saai’
dood: Adv. Pete Mihalik is ’n week gelede in Groenpunt, Kaapstad, doodgeskiet.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

GIERIGHEID kan jou dood veroorsaak.

Dis ’n moontlike rede wat adv. Pete Mihalik laat val het.

Mihalik is laas week ten aanskoue van sy agjarige seun in ’n apparent sluipmoord doodgeskiet.

Die laitie is ook in die voorval ernstig beseer met ’n bullet wat in sy kakebeen vasgesit het.

Mihalik was die Kaapse advokaat wat bekend was daarvoor dat hy in hoëprofiel-hofsake talle dikdinge in die onderwêreld verteenwoordig het. Aanvanklik het baie mense vermoed die hit op Mihalik het te make gehad met sy bendebande.

Maar Hanif Loonat, ’n voormalige voorsitter van die Wes-Kaapse Polisieraad, sê hy kan steeds nie glo dit het iets met die onderwêreld te doen nie.

Hy sluit egter nie die moontlikheid uit dat bendes ’n rol daarin kon gespeel het nie.

Hy sê: “Ek glo sterk die hit is taxi-verwant en dat dit niks uit te waai het met die onderwêreld nie. Maar somehow is daar ’n link. Maar dit kan ek nie bevestig nie.”

Loonat se filosofie is dat mense maai wat hulle saai en dat elkeen in sy professionele hoedanigheid self moet besluit hoe ver hulle bereid is om te gaan vir hulle kliënte.

“Hulle maak baie geld en die werk wat hulle doen, is nie maklik nie. Dis gevaarlik.

Bang

“So, hulle kan nie verwag dat hulle altyd veilig is nie. Hulle moet hulle prioriteite self kies,” redeneer hy.

Loonat sê die ouens wat na bewering by die Mihalik-skietvoorval betrokke was, het bewys hulle is nie bang nie. “Daar was ’n jong kind in die kar en dit het hulle nie afgeskrik nie.”

Mihalik se pa, Janos, het aan News24 gesê sy seun het soms meningsverskille met kliënte gehad oor die betaling vir sy dienste.

“Hy het hierdie sake aangeneem en ooreengekom oor die fooi. Ek dink dit was ’n stryd oor geld,” meen hy.

Intussen het Daniel Witz, ’n prokureur wat onder Mihalik gewerk het, bevestig dit gaan goed met Mihalik se seun.

“Hy is uit die hospitaal ontslaan en hy herstel goed van sy besering. Sy gesondheid is goed,” sê hy.

Witz kon nie daaroor uitwei in wie se sorg die seun gelaat is nie, net dat hy buite gevaar is. “Dis ’n moeilike tyd vir ons almal. Ek fokus tans op die Jason Rohde-saak,” sê hy.

Op die vraag of hy weet wanneer Mihalik se begrafnis gaan plaasvind, het Witz ge­reageer: “Ek weet nie .”

  • Twee verdagtes – Sizwe­ Biyela en Nkosinathi Khumalo – is vir die skietvoorval in hegtenis geneem. Hulle is aangekla van die moord op Mihalik en van poging tot moord op sy seun.

Die twee verskyn vandag weer in die Kaapse landdroshof.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters