2 jaar gelede
Mihalik: 2de verdagte vas
vermoor: Adv. Pete Mihalik is Dinsdagoggend doodgeskiet en sy seuntjie (8) beseer.  ~ 

BINNE 48 uur is twee verdagtes aangekeer vir die moord op adv. Pete Mihalik en vir poging tot moord op sy seun (8).

Mihalik is Dinsdag­oggend in Groenpunt doodgeskiet terwyl hy in sy kar voor sy seun se skool, Reddam House, gesit het.

Hy was besig om sy seun en dogter vir skool af te laai.

Die laitie is in die skietery ernstig gewond. Hy is vir mediese behandeling na ’n hospitaal geneem.

Die meisie is ongedeerd.

’n Verdagte is kort ná die voorval aangehou vir ondervraging.

Dis nie duidelik wanneer die tweede verdagte aangekeer is nie.

Die verdagtes (26 en 31 jaar oud) is deur speurders van die polisie se eenheid teen bendes ondervra voordat hulle amptelik aangekla is.

Die duo sal na verwagting vandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê een van die verdagtes is gesien waar hy in ’n metaalgrys VW Polo van die moordtoneel op die hoek van Thornhill en Cavalcade-straat gevlug het.

MOORDTONEEL: Die kar waarin adv. Pete Mihalik doodgeskiet is, word Dinsdag van die toneel verwyder. Foto’s: PETER ABRAHAMS

Daniel Witz, ’n prokureur en regskollega van Mihalik, sê hy is geskok oor die voorval en probeer nog alles verwerk.

“Hy was iemand wat omgegee het vir mense en alles in sy vermoë sou doen om mense te help. Hy sal beslis gemis word. Dit is absoluut tragies,” sê Witz.

Witz sê hy sal altyd dankbaar wees vir die leiding en ondersteuning wat hy van Mihalik gekry het.

“Hy het my as jong prokureur nie net in my professionele hoedanigheid ondersteun nie maar ook in my persoonlike lewe,” vertel Witz.

Vassit

Hy het ook bevestig dat Mihalik se seun steeds in die hospitaal is vir behandeling.

“Daar is ’n koeël wat in sy kakebeen vassit, maar hy is in ’n stabiele toestand. Sy suster is nie in die voorval gewond nie,” sê hy.

Witz kon nie verder uitwei daaroor in wie se sorg die kinders nou gaan wees nie. Hy sê net die familie tref reëlings hieroor.

Witz kon ook nie kommentaar lewer op wanneer Mihalik se begrafnis gaan wees nie.

Son het probeer om Mihalik se kollega Bruce Hendricks om kommentaar te nader.

Iemand anders het egter Hendricks se foon beantwoord en net gesê hy sal die res van die week nie beskikbaar wees nie.

News24 berig dat Hendricks gesê het hy het vir homself en sy kollegas se veiligheid voorsiening gemaak.

Son het Mihalik se kantore gister besoek waar ’n sekerheidswag gesê het niemand is op kantoor nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters