8 dae gelede
Miché sê dankie
Miché Solomon Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

“EK KON deur die ergste gesteel gewees het en selfs al dood gewees het ... maar ek kan net die Here dank dat Hy ingetree het.”

Só lui Miché Solomon, oftewel Zephany Nurse, se status update op Facebook wat sy Woensdag opgedra het aan haar “steelma”, Levona Solomon, en dié se man, Michael.

Die egpaar Solomon het hulle huweliksherdenking gister gevier.

Levona is in 2016 tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir die ontvoering van baba Zephany.

Sy is op 28 April 1997 in die Groote Schuur Hospitaal gebore en enkele dae daarna van haar ma, Celeste Nurse, gesteel.

Miché (22) het in Augustus haar identiteit bekend gemaak. Enkele dae daarna is haar boek, Zephany, uitgereik.

Ook in die boek maak sy geen geheim daarvan dat sy baie lief is vir en dankbaar voel teenoor Levona nie.

Oor Celeste en haar biologiese pa, Morné, het sy nie baie goeie dinge te sê gehad nie. In gister se post prys sy weer haar steelma vir die daad wat haar biologiese ouers die voorreg ontneem het om haar self groot te maak.

“Die Here het gesien waarheen my lewe afstuur.

“Hy het geweet die daad gaan gebeur. Ek dank God dat Hy die liefde in jou hart gesit het.

“Dankie dat jy vir my ’n mamma is. Dit was nie jou plig nie, maar dit het gebeur.”

Sy het in dieselfde skrywe gesê hulle is as gesin deur so baie.

“Maar ons het dit gemaak. Ons het dit oorleef en deur God se genade beweeg ons aan met ons lewe.

“ ’n Gesin wat saam bid, bly saam.”

Celeste het gister by navraag gesê sy weet niks van die post nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
14 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters