Verlede maand
Metro help haweloses veilig slaap
veilig: ’n Hawelose man sit op ’n houtpalet waarop hy ook vir die nag gaan slaap.Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 
Hoop: Die mayco-lid JP Smith aan die woord tydens die opening.
UITKOMS: Abigail Plaatjies en Ronnie Dickson is dankbaar vir die veilige plek.
Bietjie Beter:Toilet en stort fasiliteite vir straatmense.
veilig: ’n Hawelose man sit op ’n houtpalet waarop hy ook vir die nag gaan slaap.Foto’s: Melinda Stuurman

WAAR kry ek skuiling? ’n Dak oor my kop en ’n plek om veilig vir die nag te wees?

Dít is die dilemma en grootste vrees van so baie haweloses in Kaapstad.

Die Stad Kaapstad het juis vandeesweek ’n Safe Space-projek as gevolg van hierdie situasie geloods om die bekommernisse van talle straatmense effens verlig.

Die projek, ’n oornagfasiliteit vir straatmense wat onder die Culemborg-brug geleë is, is deur JP Smith, die Stad Kaapstad se mayco-lid vir veiligheid en sekuriteit, geopen.

Straatmense wat van die skuiling gebruik wil maak, gaan voortaan ’n plekkie hê waar hulle saans hul kop in veiligheid kan neerlê, sonder om verjaag, aangerand of besteel te word.

Die shelter, wat 230 mense kan huisves, bied aan die hawelose ’n houtpalet wat as bed dien, komberse, toegang tot kos, ’n toilet en stort.

Die projek het ook die doelwit om aan die mense werksgeleenthede, behandeling vir dwelmmisbruik en kliniekdienste te bied.

Smith verduidelik die projek het ontstaan ná gereelde gesprekke tussen die Stad Kaapstad en die hawelose mense regoor die Moederstad.

“Niemand moet vir ewig op straat wees nie,” sê Smith.

Hy het bygevoeg dat nagenoeg 7 000 mense op straat bly.

Hoewel daar nog baie mense op straat slaap, voel Smith optimisties oor die projek en sê dat wetstoepassers die straatmense daagliks van die program vertel.

Hy voeg by law enforcement­beamptes is daar om die haweloses te beskerm en nie om hulle 02:00 in die oggend wakker te maak met die woorde: “Jy kan nie hier slaap nie.”

Smith noem ook dat die projek ’n plek moet wees waarheen mense vrywillig gaan en daarom verkies hulle dat die plek minder formeel met minder reëls moet wees.

“Mense kan in groepe bly of paartjies kan bymekaar slaap.

“Ons missie is om mense aan te moedig om van die straat af te kom,” sê Smith.

Abigail Plaatjies (19) van Delft wat nou al drie jaar aan en af op straat bly, is baie dankbaar vir die plek.

Uitgesit

“Dis beter as om buite te slaap, want die CCID-sekuriteit jaag jou op in die oggendure,” sê sy.

Ronnie Dickson (50) sê hy word elke keer by sy huis in Heideveld uitgesit en vind dit maar beter om op straat te bly.

Smith en die Stad beoog om van ses tot agt soortgelyke Safe Spaces regoor Kaapstad te open.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters