11 dae gelede
‘Mert brand ma van 4 uit’
DOOD: Mishkaah Fakier (43) is eers erg aangerand en daarna lewend aan die brand gesteek.FOTO VERSKAF  ~ 

ONTSTOKE inwoners van Hangberg wou vuur met vuur vergeld.

Honderde ontstoke in­woners het gister tot by ’n vermeende druglord se huis ge-march en gedreig om dit af te brand.

Die woede onder die mense is aangevuur nadat Mishkaah Fakier (43), ’n ma van vier minderjarige kinders, Dinsdag omstreeks 05:00 ­lewend aan die brand gesteek is.

Fakier het 80% brand­wonde opgedoen. Sy het Dinsdagaand in die Victoria­hospitaal afgesterf.

Volgens Melanie Titus (39), Mishkaah se suster, het sy met ’n nat kombers om haar gebrande lyf tot by haar grootmaak-ma se huis gehardloop en aan die deur gehamer.

Titus sê: “Hulle het die deur oopgemaak en uit skok die deur weer toegegooi.

“Hulle was so geskok en het nie geweet wie die persoon is wat so erg gebrand is nie.

“Sy het toe geskree: ‘Dis ek, Mishkaah! Maak oop!’ ”

“Sy het uitge-pass en hulle het met haar na die hospitaal gejaag.”

Titus beweer dis die duiwelswerk van ’n vermeende druglord wat petrol oor haar uitgegooi het terwyl sy op haar knieë gesit het.

Sy vertel: “Hy het haar glo eers erg aangerand en daarna petrol oor haar uitgegooi en aan die brand gesteek.”

Dit gaan oor sy glo drugs van die mert gesteel het.

Titus het erken haar suster tik, maar ontken sy het drugs van die mert gesteel.

Titus sê: “Elke keer as ek by die hospitaalbed gekom het, het sy aanhoudend gesê dis nie sy wat gesteel het nie.”

Mishkaah se hartseer ma, Alice Williams (63), sê: “Sy het ’n wrede dood gesterf.

“Sy was eers erg aangerand en daarna lewend aan die brand gesteek.

“Sy het haar foute gehad, maar sy was ’n people’s person en almal het van haar gehou.”

Toe die nuus breek dat Mishkaah Fakier (43) in die hospitaal gesterf het, het woede in die harte van Hangberg se mense gebrand.

Die “mert” se broer het tot sy redding gekom en hom met sy kar van die woedende skare weggevat.

Hy het hom daarna uit vrees vir sy lewe aan die polisie gaan oorgee. Sy law­yer het hom toe vergesel.

Volgens pastoor Philippe Frans, ’n inwoner, is tik ’n groot probleem in die gemeenskap en hou die voorval verband met tik.

  • Die verdagte sal vandag in die Wynberg-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters