12 dae gelede
Mense sit op sy goudmyn
SAKEMAN: Isaac Mpofu is die ou met die stoele.  ~ Jonathan Lestrade

ONS weet van rent a car, maar het jy al gehoor van rent a seat?

Dis presies wat Isaac Mpofu (25) doen!

Mpofu het die besigheidsgap gesien en huur stoele uit aan mense wat in die verskriklike lang rye voor binnelandse sake se kantoor in Bellville moet staan.

Die finansiële boekhouer wat aan die Universiteit van Wes-Kaapland gegradueer het, sê hy het in Desember laas jaar die idee gekry om dié besigheid te begin.

“Ek het ’n hele sakeplan opgestel en het in Februarie mense begin nader om die stoele te huur.

“Dit gaan teen R5 per stoel vir twee ure se sit. Dit werk soos ’n bom!” vertel hy opgewonde.

Mpofu sê hy het nie werk nie en dus moes hy gou ’n plan maak om ’n inkomste te kry vir sy huur, kos en ander benodigdhede.

“Ek kon nie net rondsit en wag op ’n job nie. Ek moes ’n plan maak.

“Ek het gereeld Bellville toe gekom en gesien hoe moeë mense in die lang rye staan en daar het ek sommer besluit hier is ’n sake­geleentheid.”

Mpofu het 60 stoele aangekoop waarop hy stickers met sy besigheidsnaam, Lucky-One Trading Pty. (Ltd.), geplak het om seker te maak mense weet dis sy besigheid.

Hy staan nou in Bellville op die hoek by die kantore van binnelandse sake en doen fluks sake.

Uniek

“Ek is elke dag hier van 06:00 tot 16:00.

“Aan die einde van die dag stoor ek my stoele in ’n plek naby aan die kantoor en dan is ek maar net weer die volgende oggend terug,” verduidelik hy.

Mpofu sê wat sy besigheid uniek maak, is dat hy nie pensioenarisse, mense met gestremdhede of bejaardes laat betaal nie.

“Hulle kry die stoele verniet.Net dié wat jonk en gesond en in staat is om te betaal, kan die stoele huur,” sê hy.

SIT-SIT SO: Isaac Mpofu en sy stoele wat hy daagliks verhuur. Foto: Jonathan Lestrade

Mpofu voeg by hy hoop om sy besigheid na ander staatskantore te neem waar mense ook in lang rye staan en wag terwyl hulle geen sitplek het nie.

“Ek kan dus nóg mense kry om saam met my te werk en hulle kan so ook ’n inkomste verdien.

“Ons weet almal sukkel en as ek nóg mense kan help om kos op die tafel te sit, dan doen ek met my besigheid presies wat ek wou doen,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters