Verlede maand
Mense op plaas aan’t verdwyn

PELLA. – Loop daar dalk ’n reeksmoordenaar rond?

Dís die gemeenskap se vraag nadat ’n derde lyk op ’n plaas gevind is.

Opvallend is dat ál drie mense op dieselfde manier en in die­selfde omgewing by ­Gordon de Jongh se plaas vermis geraak het.

Die lyk van Michael “Do Do” Cloete is reeds in Maart op die plaas naby Pella in Boesmanland gevind.

Dit was nadat Cloete na bewering van die plaas af weggeraak het.

Volgens sy ma, Annie Cloete, het hy een Sondag-oggend saam met die plaaseienaar, De Jongh, gereis om te gaan werk. Hy is nooit weer lewend gesien nie.

Opgedaag

De Jongh het egter daardie Woensdagoggend weer na Annie se huis gekom om Cloete se boots te kom haal wat hy die Sondag vergeet het.

Volgens haar het De Jongh wéér Saterdag ­opgedaag – dié keer om Cloete se ID te kry. Hy het vertel dat die cops na die vermiste Cloete soek.

Hy sou dit na bewering die Saterdag nog aanmeld.

Sy het hartseer gesê: “De Jongh het eers gesê dat ­Mic­hael die Vrydag vermis geraak het, maar later dat my kind eintlik al die ­Dinsdag weggeraak het.”

Cloete se lyk is na bewering 24 Maart op ’n moeilike plek by ’n put ontdek.

Hy is Saterdag in Okiep begrawe.

Intussen het Petrus Matroos in Februarie 2018 op min of meer dieselfde manier daar verdwyn. Hy is ook eers lank daarna gevind, volgens sy dogter, Imorgan Smit.

Sy het gesê: “My pa is glo by ’n kokerboom gevind, maar ons kon nooit sy lyk sien nie.”

George “Vlekkie” Watt se broer het ook geheimsinnig in 2020 verdwyn.

Hy is ses weke later op dié plaas ­gevind. George het gesê: “My broer het op ’n onverklaarbare ­manier verdwyn en gesterf, nes die ander twee. Hier is ’n groot slang in die gras. Ons gaan weer na sy dood moet kyk.”

Volgens die ondersoek­beampte Jerome van Schalkwyk sal hulle weer na die verdwyning en sterftes van dié drie kyk.

Ongerymdhede

“Die dossiere is na die gebiedsbevelvoerder se ­kantoor gestuur. Ons is nou besig om weer na die sake te kyk, want ons vermoed dat daar bietjie ongerymdhede was.”

Kapt. Sergio Kock, ’n ­polisiewoordvoerder, het in 2020 vertel dat Gert Watt ’n blou oorpakbaadjie en ’n rooi pet gedra het.

Volgens De Jongh, die plaaseienaar, het Michael Cloete van die plaas weg­geloop.

Hy sê verder dat hy geen rede vir ’n skuldige gewete het nie en dat enige iemand welkom is om ondersoek na die sterftes op sy plaas te kom instel.

Hy sê: “Ek gaan my volle samewerking gee, maar vra ook dat mense met relevante inligting dit aan die polisie sal verskaf.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters