4 maande gelede
Mense groet jong vrou as ’n ‘hero’
Chantell MatthysenFoto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

CHANTELL Matthysen het ’n hero gesterf.

So is daar Saterdag van haar by haar begrafnis gepraat.

Begrafnisgangers meen as dit nie vir Matthysen (21) se dood was nie, sou haar vermeende moordenaar, Johan Wil­liams, nooit sy ander slagoffers Maria Isaacs en Natalie Jonkers se lyke uitwys nie.

Die lyke van Isaacs en Jonkers, wat vir ses jaar vermis was, is verlede week in Wellington op die Lady Loch-pad uitgewys nadat Williams vir Matthysen se moord vasgetrek is.

Die skoolsaal van die Kalkfontein Primêre Skool was stampvol en tydens die diens het jy net ’n geween gehoor.

’n Familielid van Matthysen was so erg getref deur haar wrede dood dat sy flou geval het tydens die diens.

Past. Jennifer Visser het in haar preek genoem dat Matthysen se dood daartoe gelei het dat baie onopgeloste sake nou opgelos sal word.

Past. Visser se preek lui: “Chantell is ons hero. Haar ouers vra hulself af: Hoekom dan my kind?

“Hulle was gelukkig, want sy was nie eens lank weg nie, toe word sy gevind. Hulle was wakker!

“Daar is ander mense wat vir ses jaar gewag het. Nou is dit deur Chantell se dood dat die ander gevind is.”

Past. Visser sê dis die Here wat gemaak het dat “Williams al sy vieslike dade onthul het”.

Sy meen: “Hy sal eers agterna besef dat hy alles reveal het.”

Past. Visser sê dat die oordeel nie aan ons as mens oorgelaat is nie en het Chantell se ouers gevra om vir Williams te bid, hom te vergewe en vry te stel.

Sy voeg by: “God wil hê ons moet eenkant staan sodat Hy die werk kan doen.

“Ons moet ontslae word van die haat en kwade gevoelens.

“Ek het dit vir die ouers gevra. Ek weet ons is seergemaak, maar bitterheid groei anker en wortels.

“Jy raak siek, maar die persoon oor wie jy so voel, dra nie eens kennis daarvan nie.”

Dawn Rhoode, ’n gemeenskapswerker wat Matthysen se ouers bygestaan het tydens die soektog na haar, het ook die vermoorde Stacha Arendse van Mitchells Plain en Zarah Hector van Kuilsrivier se ma’s genooi.

Rhoode sê hierdie mammas het ook hul kinders aan ’n wrede dood afgestaan.

“Die ouers moet weet dat hulle nie alleen is nie.”

Intussen is daar gerugte dat daar ook ’n vierde liggaam onder ’n brug op ’n plaas in Wellington gevind is.

Hoewel plaaswerkers Son op Sondag daarvan vertel het, het die polisie dit nog nie bevestig nie.

Chantell MatthysenFoto’s: JONATHAN LESTRADE
laaste KEER: Chantell Matthysen se kis word by die saal ingedra.
gepak: Die saal was stampvol met al die roubeklaers.
Voel saam: Sandy, ma van die vermoorde Stacha Arendse van Mitchells Plain, wys haar support.
kind verloor: Chantell Mathyssen se ma, Carol Petersen, se trane rol vrylik terwyl sy haar kind se kis dra.
Predikant: Past. Jennifer Visser bring die Woord.
familie: Chantell Matthysen se pa, Franco Matthysen (links), haar ma, Carol Petersen, en stiefpa, Jacques Petersen, in rou by die begrafnisdiens.
vermoor: Chantell Mathyssen se kis staan voor in die saal.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig dat daar drie lyke in Wellington gevind is.

Rwexana sê: “Die liggaam van die een vrou is al geïdentifiseer, maar nog nie die ander twee lyke nie.

“Neem asseblief kennis dat die verdagte gearresteer en aangekla is vir die moord op ’n 21-jarige vrou en dat hy op 13 Julie weer in die hof sal verskyn.

Rwexana voeg by dat die ondersoekbeamptes steeds besig is met die ondersoek.

Matthysen laat haar driejarige seuntjie, Dawson, asook haar ma, Carol Petersen, stiefpa, Jacques Petersen, haar pa, Franco Matthysen, en haar broer, Theo Douglas Ferreira, agter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters