5 dae gelede
Meisie moeg van boelies
Geworry: Die ma van die gr. 7-leerder is bekommerd dat haar kind haarself weer kan seermaak.  ~ Melinda Stuurman

’N LAERSKOOLLEERDER van ’n skool in Grassy Park is so moeg van skoolboelies dat sy haar polse met ’n skerpgemaakte pendoppie gesny het.

Die 13-jarige gr. 7-leerder van Seawinds het vanjaar in die tweede kwartaal by die skool aangesluit toe sy en haar ma verhuis het.

Sy vertel sy het met haar aankoms by die skool met ’n groep meisies bevriend geraak. Kort daarna het die groep haar gepressure om op ’n sekere way te sit en ’n sekere manier aan te trek.

“Hulle wou heeltyd vir my voorskryf wat om te doen.”

Die meisie het toe haar ma hiervan vertel, wat vir haar gesê het om van die meisies weg te breek.

Dit is toe dat die meisies na bewering katterig teenoor die tienermeisie geword het.

Sy het toe met seuns bevriend geraak. Hierna het die meisies haar begin name noem en haar aan haar klere rondgetrek.

Haar ma sê sy het die skoolhoof gaan sien, maar niks is gedoen nie.

“Ek wou ’n oop vergadering met die leerders se ouers hê, maar dit het nooit gebeur nie. Vir al wat ons weet, dra die ouers nie kennis dat hulle kinders by so iets betrokke is nie.”

Sy sê by ’n geleentheid het ’n seun by die skool ook haar dogter rondgestoot en haar boekesak uitgegooi. Die meisie het haar na bewering toe verdedig, waarna die twee albei na die skoolhoof se kantoor geroep is. Die skoolhoof het haar ma gebel.

Haar ma sê toe sy by die skool kom, was haar kind se polse bebloed.

“Ek vrees nie net dat sy haar weer kan seermaak nie, maar dat sy ook self in ’n boelie kan ontaard.

“My kind het net ’n paar maande by die skool oor, maar ek kan nie toelaat dat die kwessie net onder die mat in gevee word nie.”

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê hulle is bewus van die aantygings.

“Ons was baie teleurgesteld toe ons beweringe hoor dat die prinsipaal en onderwysers niks gedoen het toe die ma gekla het nie. Die skool hét ingetree.

“Die beweringe is dus vals en skend die skool en personeel se naam.”

Takel

Sy sê die skool doen alles in sy vermoë om te verseker dat alle leerders veilig is en voel.

“Boelies is ’n groot bekommernis in baie skole en ’n realiteit wat leerders van oral in die gesig staar.”

Sy sê die skool takel die kwessie van boelies met alle erns.

“Kort nadat die leerder by die skool opgedaag het, is dit onder die skool se aandag gebring dat die leerder geboelie word.

“Die skool het ’n support-plan vir die leerder gestig en ’n anti-boelie-program aangebied vir al die leerders, insluitend die leerders wat hiervan aangekla is.

“Sy was ook by verskeie groepsessies wat op verskillende dae gehou is. Die skool het ook die kwessie na ’n maatskaplike werker verwys,” sê Hammond.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters