Verlede maand
Meisie (7) in pa se arms dood
Emaan Solomons.  ~ Verskaf

DIE gemeenskap van Ocean View is in skok en rou gedompel nadat ’n skoolmeisie in die gangsters se kruisvuur beland het.

’n Dwaalkoeël het Emaan Solomons (7), ’n gr. 2-leerder van die Primêre Skool Kleinberg, voor haar ouerhuis in Libra-weg getref. Sy is in die rug getref en het later in die hospitaal gesterf.

Haar dood het Dinsdagaand die gemeenskap geskok.

Volgens Emaan se hartseer tante Natalie Solomons (32) was hulle in die huis toe die skote afgaan.

Natalie sê: “Ek het uitgehardloop en gaan kyk wat aangaan.

“Toe ek buite kom, het ek Emaan in die jaart sien lê.

“Sy was raakgeskiet en het nog gelewe. Ons het gewag vir die ambulans, wat haar hospitaal toe geneem het. Sy het later in die hospitaal afgesterf.”

Natalie beskryf Emaan as ’n baie vrolike meisiekind wat van sing en teken gehou het.

Sy was ook lief vir mooi aantrek en het altyd geglimlag.

Emaan se pa, Azmir, is gebroke oor sy enigste dogter so koelbloedig vermoor is.

Azmir sê: “Ek kan nie die pyn wat ek voel, beskryf nie. Sy was my enigste dogter en het in my arms gesterf.”

Emaan se hartseer ouma Geraldine Solomons (53) sê: “Ek gaan haar baie mis.

“Sy was die enigste meisie tussen die ander vyf kleinseuns. Sy was so liefdevol en het my altyd drukkies gegee.”

Getraumatiseer

Inwoners en onnies van Emaan se skool het gister by die ingang van Ocean View met plakkate teen bendegeweld betoog.

Een van die onnies sê: “Sy was so ’n liefdevolle kind en ons almal by die skool is erg getraumatiseer.

“Sy het nog Dinsdagmiddag vir haar klasjuffrou ’n drukkie gegee en gesê sy is lief vir haar.

“Dit is hoe ons haar in ons harte gaan onthou.

“Ons het twee jaar gelede ook ’n leerder in bendegeweld verloor.”

’n Omgekrapte inwoner, Susan Johnson (47), sê: “Dit is nie reg wat die gangsters doen nie.

“Dit kon my kind ook gewees het.”

Die lyk van Abdul Fielies (31) is Dinsdag ná dié skietvoorval by die rivier tussen die riete gevind.

Fielies is in sy hokkie doodgeskiet. Volgens sy oom Faroek Fielies (41) was hy baie stil en het niemand gepla nie.

Hy sê: “Ons vermoed hy is stilgemaak oor hy miskien iets gesien het. Hy was nie ’n gangster nie.”

Volgens brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, word twee moordsake ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters