6 dae gelede
Meer Golden Arrow-busse nou op die pad
Golden Arrow buses on fire at the Blackheath depot
Golden Arrow-busse is onlangs brandgesteek.  ~ Foto Verskaf: Sad Kaapstad

SOWAT 600 ekstra busse van Golden Arrow gaan ingespan word om met die vervoer van passasiers te help terwyl taxigeweld nog in die Wes-Kaap voortduur.

Golden Arrow se besluit om hul vloot met 40% te vergroot, is Woensdagmiddag tydens 'n vergadering met die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die LUR van vervoer en openbare werke, Daylin Mitchell, geneem.

Winde sê in 'n verklaring hy het dit tydens die vergadering duidelik aan Golden Arrow se uitvoerende hoof, Francois Meyer, gemaak dat die veiligheid van openbare vervoerbedrywighede sy topprioriteit geniet.

Winde het ook beklemtoon dat die polisie hul teenwoordigheid verskerp het om verdere geweld te voorkom.

Verskeie van Golden Arrow se busse is onlangs brandgesteek.

Meyer sê die onlangse vlaag van geweld regoor die metro het 'n ramspoedige impak gehad op Golden Arrow se vermoë om dienste aan sy 250 000 daaglikse passasiers te lewer.

Meyer het Winde, Mitchell, die polisie asook Stad Kaapstad se veiligheid en sekuriteitsdirektoraat bedank vir die ondersteuning wat hulle ontvang het.

Intussen het die provinsiale departement van vervoer weer 'n statusverslag van die verskeie roetes gegee. Daar word onder meer genoem dat dit kan enigetyd verander. Teen 14:00 Woensdag 21 Julie was daar:

  • Geen taxi’s tussen Mbekweni en Bellville
  • Beperkte taxi's vanaf Khaylitsha, Nyanga en Langa wat lei tot beperkte diens by die Bellville-taxirank
  • Taxi’s vanaf Eersterivier en Kuilsriver laai pendelaars af op Robert Sobukwe
  • Taxi’s op die Kaapstad-roete laai pendelaar op by Charl Malan
  • Taxi’s vanaf Delft en Belhar laai pendelaars af op Caledon-weg
  • Langa taxirank is daar 'n beperkte diens na Bellville-taxirank
  • Mitchells Plain taxirank is daar beperkte Cata en Codeta taxi's met 'n beperkte busdiens
  • Gugulethu taxirank is daar 'n beperkte tot geen bus en taxi-diens
  • Parow taxirank is geen Cata of Codeta taxi's nie, met 'n beperkte busdiens
  • Durbanville taxirank is daar beperkte tot geen taxidiens
  • Wallacedene roete is daar beperkte tot geen taxidiens
  • Bloekombos roete is daar beperkte tot geen taxidiens
  • Nyanga-sentraal se busdienste is beperk en word vanaf Nyanga-polisiestasie gelaai
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters