Verlede maand
Meer as slange in gras hier
DAGLIG: Hierdie is vermoedelik een van die spots waar die meisies verkrag is.  ~ Foto Verskaf

TWEE verkragtingsvoorvalle binne een maand... helder oordag!

Wat dit nog skokkender maak, is dat die lang gras van ’n laerskool die jagveld blyk te wees van ’n groepie jong verkragters.

Die gemeenskap van Norwood in Elsiesrivier is geruk deur die trauma wat ’n 12- en 13-jarige meisie moes deurmaak.

Hart

Wat hierdie tragiese gebeurtenisse hartseerder maak, is dat die twee meisies na bewering op dieselfde stuk veld verkrag is en albei is leerders by Norwood Sentraal Primêr.

’n Inwoner van 22ste Laan wat verkies om anoniem te bly, sê haar hart gaan uit na die twee meisies.

“Hulle het die gemeenskap omtrent (Sondag) 15:15 oor die voorval ingelig.

“Ons was tot by die toneel en bure het ook daar bymekaargekom.

“’n Beskrywing van die verdagte het die rondgegaan en die gemeenskap het na hom begin soek,” vertel die inwoner.

Sy voeg by die voorval van verkragting op 13 Oktober en die een van Sondag is met deernis en omgee deur die gemeenskap hanteer.

Die bekommerde inwoner voeg by dat die skoolhoof voorheen in kennis gestel is van die gevare wat die lang gras en gebreekte heining inhou.

“Die gemeenskap sny self die gras.

“Ons het ’n week of twee gelede met die raadslid kontak gemaak om met die skoolhoof in verbinding te tree oor die gras en fencing wat ’n safety hazard vir die gemeenskap is.

“Die voorval van vroeër vandeesmaand het ons pleidooie bevestig. Daar is egter niks aan die gras gedoen nie.

“Ons was vanoggend weer by die skool om met die prinsipaal te gesels oor die kwessies.”

in visier: Twee verkragtingsvoorvalle het die laerskool geruk.

Volgens die inwoner was die hoof se terugvoer dat hy reeds aansoek gedoen het by die departement van onderwys om die heining te laat regmaak.

“Volgens die prinsipaal wag hulle op papiere wat goedgekeur moet word en dat hulle op soort van ’n waglys is.

“Ons was by hom vir ’n oplossing. Hoewel die gemeenskap nou klaar die gras gesny het, is die fence nog ’n probleem.”

AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat albei voorvalle naby Halt-weg in Elsiesrivier gebeur het.

“Luidens verslae het ’n 12-jarige en ’n 15-jarige op Sondag 24 Oktober oor die veld geloop.

“Toe hulle bewus word van ’n onbekende man wat hulle agtervolg, het die verdagte die 12-jarige in die hande gekry en haar daarna geforseer om seks te hê.

Ondersoek

“Toe gemeenskapslede agterkom wat aan die gebeur is, het die verdagte van die toneel gevlug. Hy moet nog gearresteer word,” sê Swartbooi.

Swartbooi bevestig ook dat albei sake deur die polisie se FCS-eenheid ondersoek word.

In verband met die voorval vroeër dié maand, het Swartbooi bevestig dat vyf verdagtes gearresteer is.

“Omstreeks 12:00 op Woensdag 13 Oktober is ’n 13-jarige seksueel aangerand. Die verdagtes in die saak het van die toneel gevlug, maar is later vasgekeer.

“Die groep 11- en 12-jariges sal in die Goodwood-landdroshof ’n verskyning maak sodra hulle aangekla is.

“Die ondersoekbeampte is besig om die relevante inligting in te samel om ’n goed voorbereide saak voor te lê.”

Die 13-jarige was volgens inwoners nog nie terug by die skool nie en het intussen berading ontvang.

Millicent Merton, woordvoerder van die onderwys­departement, sê daar’s teenstrydige verslae oor die voorval vroeër dié maand.

“Die SAPD en die skool werk saam. Ons is tans nie in staat om verder kommentaar te lewer oor die twee voorvalle nie.

“Die gras was langer as gevolg van ’n sameloop van omstandighede wat buite die skool se beheer is,” verduidelik sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters