12 dae gelede
Meeloper sit ook
Zelda Van Niekerk  ~ Foto Verskaf

ELTON Abrahams, een van die laaste drie mans wat aangekla is vir die moord op Zelda van Niekerk, is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Van Niekerk, ’n biker, was die stigter van die organisasie Bikers with a Cause.

Abrahams is boonop 10 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede.

Die vonnisse sal gelyk­lopend uitgedien word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Abrahams (24) het wag gestaan ??terwyl die moord en roof gepleeg is, maar die staat het hom van “common purpose” aangekla.

Ntabazalila sê Abrahams het Dinsdag aan die hof gesê dat hy en sy medebeskuldigdes op 28 September 2018 ’n dagga-en-Mandrax-pyp gerook het. Toe hulle nie meer dwelms gehad het nie, het hulle besluit om in Summer Greens te soek na iemand wat hulle kan beroof.

Een van sy medebeskuldigdes, Lucien Ackerman, het vir hom en ’n ander beskuldigde, Michael Pietersen, gesê dat hy ’n vuurwapen het, maar Abrahams het nie gesien watter soort vuurwapen dit is of watter kleur dit is nie.

“Hierdie uitstappie het geen positiewe resultate opgelewer nie. Op pad terug na Factreton het hulle afgekom op Van Niekerk, wat onder die brug op die N1-snelweg langs haar motorfiets gesit het.

“Sy het op haar vriendin gewag om ’n leerder na sy matriekbal te escort.”

Ntabazalila sê voorts die groep het besluit om die 45-jarige biker te beroof.

Volgens die woordvoerder het Abrahams aan die hof gesê dat Pietersen probeer het om Van Niekerk se rugsak te gryp. Daar was R3 000 in die rugsak.

Sy het resist en in die worsteling vir die rugsak het Ackerman die vuurwapen uitgehaal en haar in die maag geskiet.

“Hulle het haar rugsak gevat en weggehardloop. Hulle het die geld gedeel en Abrahams is huis toe,” sê Ntabazalila.

Adv. Esna Erasmus, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê dat Abrahams van common purpose aangekla is.

“Hoewel hy Van Niekerk nie persoonlik geskiet of haar sak gegryp het nie, erken hy dat hulle almal ingestem het om iemand te beroof en as sodanig met ’n gemeenskaplike doel opgetree het.

“Hy het geweet Ackerman het ’n vuurwapen en die vuurwapen is saamgeneem om iemand te beroof.

“Hy het geweet dat Ackerman tot die American’s-bende behoort en gewelddadige neigings het.

“Hy het voorsien dat iemand in die rooftog met die vuurwapen geskiet en doodgemaak of ernstig beseer kon word.

“Hy het hom nietemin met hierdie moontlikhede versoen en die common purpose voortgesit en daarmee voortgegaan,” het sy aan die hof gesê.

Erasmus het ook kritiek gelewer op die sinnelose moord op ’n weerlose vrou wat die drie mans nooit provoke het nie.

Plaag

“Die afgryslike moord het helder oordag gebeur.

“Dit was ’n brutale daad met flagrante miskenning van die lewe van ’n ander mens. Die moord op ’n vrou is ’n vreeslike plaag wat ons as samelewing in die gesig staar,” het Erasmus voorts gesê.

Ackerman is vroeër vanjaar lewenslange tronkstraf opgelê en Pietersen is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters