5 maande gelede
Matriekslaagsyfer daal heelwat
OPTIMISTIES: Min. Angie Mo­tshekga sê as dit nie vir Covid-19 was nie, was die uitslae stukke beter.  ~ Netwerk24

COVID-19 was duidelik nie goed vir die Wes-Kaapse matriekklas van 2020 nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderrig, het gister die uitslae van verlede jaar se eksamen vir die nasionale senior sertifikaat bekend gemaak. Die provinsie se matriekslaagsyfer het met 2,4% tot 79,9% gedaal.

Die topprovinsie in die land is weereens die Vrystaat. Hier het 85,1% van die matrieks geslaag. Gauteng is met 83,8% tweede en die Wes-Kaap derde.

Die Noord-Kaap het ver­basend swak gevaar. Met ’n slaagsyfer van 66% is dit aangewys as die swaks presterende provinsie. Dit is 10% swakker as wat die provinsie in die 2019-eindeksamen gevaar het.

Die Oos-Kaap (68,1%) en Limpopo (68,2%) het die Noord-Kaap ’n kaart geskiet.

Motshekga het gesê as die leerders wat na gr. 12 oorgeplaas is, nie bygetel word nie, sou vyf provinsies ’n slaag­syfer van oor die 80% behaal het. Volgens haar beteken dit dat die Vrystaat dan ’n slaagpersentasie van 91% sou behaal het.

Wat betref die bes presterende onderwysdistrikte in die land, moet in die top-10 ver gekyk word om een te kry wat in die Wes-Kaap is.

Die Wes-Kaap se Metro-Noord-distrik is met ’n slaagsyfer van 85,4% darem gesamentlik in die agtste plek.

Slegs

Die toppresterende distrik in die land is Tshwane (89,6%), gevolg deur Johannesburg-Wes (88,1%) en Gauteng-Noord (87%).

Slegs drie provinsies maak deel uit van die top-10-onderwysdistrikte in die land.

Nelson Mandelabaai met ’n slaagpersentasie van 75,5% is die top-onderwysdistrik in die Oos-Kaap.

Namakwa-distrik is die top-area in die Noord-Kaap. In dié distrik is ’n slaagpersentasie van 78,6% behaal.

Motshekga het gesê: “Ons glo vas as dit nie vir Covid-19 was nie, sou die klas van 2020 die beste klas gewees het sedert die instelling van die senior sertifikaat.

“Ek wil ook alle rolspelers soos die onderwysers en vakbonde bedank vir die rol wat hulle gespeel het in ’n uiters moeilike jaar.”

Matrikulante van die klas van 2020 sal van vandag af na hul onderskeie skole stroom om hul matriek-uitslae te gaan haal.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters