12 dae gelede
#KYK: Matriekseun dood ná jol
ONTROOSBAAR: Shad-Lee se ma, Elizabeth May, word deur Anthea Isaacs bygestaan.  ~ Foto’s: jonathan lestrade

’N MATRIKULANT van Eersterivier is Sondagoggend doodgelem.

Die leerder en kranige sokkerspeler Shad-Lee May (18) is in die hart gesteek en het in die Eersterivier- hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die voorval het by ’n beweerde drug den op die hoek van Thomas Tucker-laan en Romelia-singel in The Conifers gebeur.

Shad-Lee, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Malibu in Eersterivier, is drie keer gesteek. Hy is met ’n privaat motor hospitaal toe geneem.

Een van die spelers in die sokkerspan The Conifers, waarvan Shad-Lee die kaptein was, het verjaar en het ’n party gehou.

Volgens Shad-Lee se ma, Elizabeth May (49), het een van sy vriende haar omstreeks 03:00 kom sê haar seun is op die party gesteek.

’n Hartseer May sê: “Ek en my seun het na die toneel gegaan en hom na die hospitaal geneem.

“By die hospitaal het hulle amper vier uur geveg om sy lewe te red.

“Ek weet nie wat presies by die party gebeur het of wie hom gesteek het nie.

“My hart is baie seer, veral oor die manier hoe hy vermoor is.”

Sy het Shad-Lee beskryf as ’n stil persoon wat baie lief vir sokker was.

Hy was ook ’n groot Liverpool-aanhanger.

Volgens May was hy baie goed in wiskunde en hy wou graag ’n wetenskaplike geword het.

Dwelmpos: Die matrikulant is na bewering hier gelem.

Aanhanger

Shad-Lee se broer, Jason Coetzee (28), sê: “Ons was dieselfde – baie lief vir sokker. As daar sokker was, dan was ons daar.

“Hy het altyd sy hart op die veld uitgespeel.

“Hy was stil en nie iemand vir moeilikheid nie.”

Volgens ’n familievriend, Anthea Isaacs, het Shad-Lee juis nog Saterdag­ sokker gespeel­.

Isaacs sê: “Ons kyk altyd as hy speel, maar Saterdag kon ons nie sy game gekyk het nie.

“Dit is die eerste keer dat so iets in ons gemeenskap gebeur. Dit was ’n skok en pyn toe ek Sondagoggend die tyding kry.”

Omgekrapte lede van die gemeenskap het Sondag­oggend ná die voorval die beweerde dwelmpos met klippe bestook.

Hulle het ook die garage-deur afgebreek. Die cops is toe ingeroep nadat inwoners gedreig het om die huis af te brand.

Hartseer: Jason Coetzee, Shad-Lee se broer, wys hoe bebloed die jacket is wat sy broer aangehad het.

AO Joseph­ Swartbooi, polisiewoordvoerder, bevestig Shad-Lee is in ’n privaat voertuig hospitaal toe.

“Hy is verskeie kere gesteek­ en is in die hospitaal oorlede,” sê Swartbooi.

Volgens Swartbooi is ’n verdagte vir ondervraging in hegtenis geneem.

“Die polisie ondersoek tans ’n moordklag,” het hy bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters