23 dae gelede
Matriek-leerder afgemaai
Richard en Deidre Walters van Eureka Estate saam met ’n foto van hulle tienerseun, Glenton Thaker, wat koelbloedig doodgeskiet is.  ~ Basil Afrika

’N BELOWENDE matriekleerder is koelbloedig doodgeskiet voordat hy sy finale matriekvraestel kon aflê.

Glenton Thaker (18) van Florida School of Skills in Ruyterwacht is Saterdag voor hulle hekkie in Eureka Estate vol lood gepomp.

Thaker sou Maandag sy laaste vak, aardrykskunde, geskryf het, voordat hy sy matriek sou voltooi.

Volgens sy hartseer ma, Deidre Walters (39), het hy vir haar ’n R5 gevra om ’n los entjie te gaan koop.

Deidre vertel: “Ek het die skote gehoor, maar uitgehardloop om my agjarige seuntjie te roep.

“Min het ek geweet dit is vir Glenton wat hulle skiet.

“Hy het voor die hekkie gelê en die entjie en kleingeld was nog in sy hand.

“Hulle het hom 12 keer in die gesig, bors en agterstewe raak geskiet.

“Ek kan nóú nog nie glo my kind is dood nie.

“Hy het niemand ooit kwaad aangedoen nie, en ook nie mense in Eureka Estate geken nie.

“Ons woon nou die afgelope vier maande hier nadat ons Wendyhuis in Ravens­mead afgebrand het.

“Hy het nie vriende hier gehad nie en meestal by sy vriende in Ravensmead gekuier.”

Glenton se stiefpa, Richard Walters (54), sê: “Hy was ’n stil kind, wat nie baie gepraat het nie.

“As jy met hom praat, het hy meestal net geglimlag.

“Hy het daarna uitgesien om volgende jaar by law enforcement aan te sluit.

“Hy het baie van houtwerk gehou en was baie handig met sy hande.

“Ons weet nog nie hoekom hy geskiet is nie, want hy was nie ’n gangster nie.”

Volgens sy ouers het die verdagte uit die rigting van die pad op hom geskiet toe hy by die hekkie was.

Hy het net verlede week ’n trofee vir Afrikaans gekry en ’n sertifikaat vir Engels.

Daar is Dinsdag ’n gedenkdiens by die skool vir hom gehou.

Thaker sal Saterdag in Ravensmead begrawe word.

Intussen is die cops besig om ’n moordsaak te ondersoek.

Niemand is al gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters