Verlede maand
Matriek laat merk by skool
KREATIEF: Elizabeth Blaauw is verskriklik trots op haar talentvolle dogter.  ~ Jonathan Lestrade

GRABOUW. – ’n Matriekleerder hier het gesorg dat haar klas van 2021 nie maklik vergeet sal word nie.

Die 18-jarige Amore Blaauw het ’n skildery geskenk aan Groenberg Sekondêr, wat haar die geleentheid gebied het om te leer verf.

Blaauw, wat in Melrose Place woon, vertel skilder was nog maar altyd haar stokperdjie en danksy die hulp van onderwysers kon sy haar by die Rural Arts Network-program aansluit.

Hierdie nalatenskap het Blaauw ’n maand geneem om te voltooi.

Spanwerk

“Al die matriekleerders se name is op die lap. Die hande simboliseer dat leerders die skool dra net soos wat die skool die leerders dra.

“Die drie leerders simboliseer dat spanwerk en ondersteuning nodig is in alles wat jy aanpak,” vertel Blaauw, wat ná skool haar kreatiwiteit deur middel van fotografie wil uitleef.

“Die inspirasie vir die skildery het gekom soos wat ek besig was om te verf.

“Ons wou hê dit moet iets eenvoudigs wees wat die skool sigbaar verteenwoordig.”

Blaauw voeg by dat ander matriekleerders hul idees vir die skildery met haar gedeel en dat almal saam op die eindproduk besluit het.

Blaauw het al baie ander kunswerke voltooi en sê sy sal nooit ophou verf nie.

Hoewel dit nie haar begeerte is om ’n professionele skilder te wees nie, sal sy graag van haar werk eendag in ’n galery wil sien.

John Jason, onderwyser by Groenberg Sekondêr wat Blaauw genader het om die kunsklasse by te woon, sê die skool is baie trots op die talent wat Blaauw het.

“Ons is dankbaar dat sy haar tyd ingesit het om hierdie skildery vir die skool te verf.

“Ons is ook trots op haar dat sy haar tyd op hierdie wyse gebruik.

“Vandat sy haar by die Rural Arts Network aangesluit het, was sy werklik altyd getrou met die bywoning van die kunsklasse.

Skets

“Sy neem tans leiding wanneer die kunsonderwyser afwesig is en kan haar tegnieke maklik oordra aan nuwe leerders,” vertel Jason.

Hy voeg by dat Blaauw altyd bereidwillig was om te skets of verf op aanvraag van die skool en sy het te alle tye haar beste gelewer.

Die Rural Arts Network neem elke jaar hul leerders op ’n uitstappie na verskeie kunsgalerye en museums.

Die groep, insluitend Blaauw, het deur die jare aan verskeie eisteddfods in die Overberg-streek deelgeneem en is al met goue en cum laude-toekennings bekroon.

Blaauw is haar enkelma se enigste kind en kom nie uit ’n kunstige familie nie.

Haar ma, Elizabeth Blaauw (50), is nie min trots op haar talentvolle dogter nie.

Elizabeth vertel haar kunstige dogter het reeds aansoek gedoen by Stellenbosch Universiteit, Wits en ander instansies om fotografie of kuns te studeer.

“Amore het van laerskool af saam met haar neef so agter in hul skoolboeke ge­teken.

“Nooit het ek geweet hierdie sal in ’n passie vir haar uitdraai nie.

“Sy is so toegewyd en ge­fokus wanneer sy verf of teken,” vertel die mammie.

Elizabeth voeg by dat haar dogter baie van haar werk as geskenke vir mense gee op hul verjaardag en sy meen dis vir haar iets spesiaals.

“Ek sit tans geldjies weg vir haar studies, maar dis so stuk-stuk.

“Sy benodig nog baie om haar drome te bewaarheid en dus verwelkom ons enige bystand, of dit nou verf of lappe is om haar passie aan die lewe te hou.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters