13 dae gelede
#KYK: Matric se droom in ure waar
Cinderella: Met ’n kroontjie en al het die matriekleerder Roheda Carelse gister soos ’n ware feëprinses gevoel en gelyk.  ~ Peter Abrahams

DIE moontlikheid was 99% dat sy nie matriekafskeid toe sou gaan nie.

Roheda Carelse (17), ’n matriekleerder van Wal­lacedene, het dit maar so aanvaar toe sy gisteroggend opgestaan het.

Maar hier op nommer 99 het weldoeners met harte van suiwer goud ingespring om haar droom te bewaarheid om soos Cinderella te voel.

Roheda, ’n matriekleerder van die Alta du Toit Skool vir Leerders met Spesiale Behoeftes, het vas geglo dis onmoontlik om te gaan na haar matric ball, wat gisteraand gehou is.

En toe sommer net so het skenkings vir haar van oral begin instroom.

Roheda kon haar oë nie glo nie.

Haar rok, hare, skoene en ’n kar het soos ’n droom voor haar verskyn.

Al wat sy kon sê, was dat sy baie gelukkig is.

Son is ook gevra om te help en was nie lui om in te spring nie.

Toe Son se joernalis Lyndall Petersen, die fairy godmother van die haarsalon The Hair Fairy, kontak, het sy dadelik ingestem om ook te kom help mooimaak.

Petersen het aan Son verduidelik dis ’n groot eer vir haar om minderbevoorregtes te help.

Sy het gesê: “My kinders is baie bevoorreg.

“Sy het nie wat hulle het nie.

“Die kinders besef nie dat daar ander kinders is wat verlang na wat hulle het nie.

“Toe ek die meisie help, kon ek die waardering op haar gesig sien.”

Behoefte

Kwayo Louw, die voorsitter van Kraailove, ’n organisasie wat die gemeenskap help, het sy kar en lekkergoed aan Roheda geskenk vir haar groot dag gister.

Hulle het tot dusver vyf leerders met hulle matriekafskeid gehelp.

Louw het verduidelik: “Ons help graag waar daar ’n behoefte is.

“ ’n Matriekafskeid is iets groots en ons kinders maak dit vandag nie so ver nie. Dis ’n groot mylpaal.

“Dit voel goed om haar dag spesiaal te maak.”

Rachel Carelse, Roheda se mammie, het gesê sy is baie dankbaar dat mense ingespring en gehelp het omdat haar beursie eenvoudig dit nie kon doen nie.

Aangedaan het sy gesê: “So baie, baie dankie.”

Volgens Carelse het niemand na aan haar gehelp nie.

’n Baie happy Roheda glo dis een dag wat sy nooit sal vergeet nie.

Rachel het behoorlik gestraal van trots oor hoe pragtig haar dogter gelyk het, gereed vir gisteraand se ball. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters