Verlede maand
Mans maai seun af by shop
MOORDTONEEL: Dean Sebastian (15) is Donderdagaand in Uitsig doodgeskiet.FOTO VERSKAF  ~ 

’N SEUN is Donderdagmiddag koelbloedig doodgeskiet in Uitsig, Parow.

Dean Sebastian (15) is twee keer in die kop en een keer in die rug geskiet.

Die voorval het omstreeks 17:00 in Hibiscusstraat gebeur. Sebastian is op die toneel dood.

Volgens Dawie van Wyk, voorsitter van die polisiëringsforum in Ravensmead, het die seun se ma hom winkel toe gestuur.

Hy het by die winkel uitgekom, toe nader twee mans hom en brand los op hom.

Moordwapen

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Die polisie het gou leidrade opgevolg en ’n 33-jarige verdagte dieselfde aand nog gearresteer.

“Hulle het ook die moord­wapen en nege koeëls in die verdagte se besit gekry.”

  • ’n Vrou van Factreton veg tans om haar lewe nadat sy ook Donderdag laatmiddag in die bendes se kruisvuur beland het.

Die 21-jarige vrou is om en by 16:15 in Vliegtuiglaan in die rug geskiet.

Niemand was teen gister gearresteer nie.

  • In Eersterivier is ’n 34-jarige man ook Donderdagaand in London Way in sy motor raakgeskiet.

Hy is na die hospitaal geneem.

  • ’n Man (18) is Vrydagaand in Ukulelestraat in Belhar doodgeskiet. Die polisie ondersoek ’n moordsaak.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters