2 maande gelede
Man voor sy boeta geskiet
BLOEDIGE TONEEL: Die cops en paramedici op die plek in Portlands, Mitchells Plain, waar ’n vermeende Fancy Boy doodgeskiet is. Foto: LEON KNIPE  ~ 

NOG twee mans is die Paasnaweek in afsonderlike skietvoorvalle dood.

Liam Leach (22) is in Heideveld vol lood gepomp en ’n vermeende lid van die Fancy Boy-bende is in Mitchells Plain doodgeskiet.

Leach is in ’n drive-by shooting in Heideveld bokveld toe gestuur.

Die skietvoorval het 23:55 op die hoek van Vyfde Laan en Heideveldweg gebeur.

Leach, vermoedelik ’n onskuldige man, is drie keer in die gesig geskiet en is op die toneel dood.

Hy was saam met sy broer op pad na ’n familielid se huis in Wel­come Es­tate.

’n Wit Corsa-bakkie met ’n canopy op het verby hulle gery.

Een van die verdagtes op die bakkie het die canopy agter oopgemaak en op die twee broers losgebrand.

Die jonger broer is in die gesig geskiet en is later op die toneel dood.

Sy broer het van die toneel gevlug om hulp te gaan soek.

Die bakkie het van die toneel weggejaag en niemand is nog gearresteer nie.

In nog ’n skietery Saterdagaand in Heideveld is ’n vermeende gangster van die Americans in ’n skietery gewond terwyl hy saam met ’n vriend geloop het.

Hy het by ’n huis se jaart ingehardloop om van die skieters weg te kom.

Die jongens het hom tot in die jaart agtervolg en weer op hom geskiet.

Hy is twee keer in die rug gewond en is in ’n ambulans na die hospitaal geneem.

In Mitchells Plain is ’n vermeende gangster van die Fancy Boys Sondag 20:45 vol lood gepomp.

Die skietery het voor ’n winkel op die hoek van Silversands- en Merrydalelaan in Portlands gebeur.

Die man het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Dit kom nadat ’n 32-jarige man op Goeie Vrydag in Tafelsig doodgeskiet is.

Dié voorval het in Garcia Crescent gebeur en nog ’n man is gewond.

Niemand is tot dusver in verband met die skietery gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters