19 dae gelede
Man van God in pad geskiet
GESKOK: Shirley Matthews sê nie in hul wildste drome het hulle gedink een van die skote wat hulle hoor, het Olain getref nie.  ~ Peter Abrahams

’N GODSMAN is Woensdagaand in Uitsig naby Ravensmead doodgeskiet terwyl hy die Woord verkondig het.

Past. Frank Olain (43) was besig met sy preek by ’n opelugdiens in Corona­tion Road toe hy koelbloedig doodgeskiet is.

Volgens sy tante Shirley Matthews was Olain langer as 21 jaar bekeer en hy het gereeld opelugdienste in Uitsig gehou.

Hy was ’n ongetroude skrynwerker en sy ma se broodwinner.

’n Geskokte Matthews (52) sê: “Hy het van die werk af gekom en vir my en sy ma gesê hy gaan vir ’n halfuur kerk hou.

“Dit was omstreeks 20:00 toe ons die tyding kry hy is geskiet.

“Ons het die skote gehoor, maar nie geworry nie, want die gangsters skiet gereeld hier. Toe ek op die toneel kom, was hy reeds dood.

“Hy is een keer in die sy geskiet.

“Ons glo nie dit was ’n dwaalkoeël wat hom geraak het nie. Daar was niemand anders in die pad terwyl hy besig was om kerkdiens te hou nie. Net ’n paar kinders het daar by hom gestaan.”

Anoniem

Olain se familie beskryf hom as ’n lieflike mens. Hulle is nog in skok oor wat met hom gebeur het.

Volgens ’n vrou wat verkies om anoniem te bly, was sy van haar ma se huis af op pad om by die mobile winkel krag te koop toe sy Olain met sy loudspeaker sien.

DOODGESKIET: Ondersoekers staan by past. Frank Olain se oorskot. Foto: Leon Knipe

Die vrou sê: “Hy was op pad om opelugdiens te gaan hou. Hy het tot op die hoek van Coronation Road geloop en begin om oor sy loud­speaker te preek.

“Daar het ’n paar klein kinders rondom hom gestaan.

“Hy het nog gepreek en gesê: ‘Here, U sê in u Woord al is dit vandag net vyf of ses wat vanaand saam met U hier staan, sal U sy naam groot maak.’ Ons het toe huis toe geloop.

“Ek is net in by die deur, toe stuur ek die kind om by die winkel om die draai koeldrank te gaan koop. Sy was skaars uit die huis uit toe die skote afgaan.

“Ek het uitgehardloop om te kyk waar sy is. Sy het aangehardloop gekom en ek vra toe of iemand geskiet is.

“Sy het gesê: ‘Ja, daar lê die een.’ Toe ons naby kom, sien ons dit is die broer.

“Hy het nog gelewe en het nog oor die loudspeaker gepraat. Hy het gesê: ‘Here, om vir U te sterf is ’n wins. Ek was besig om u naam groot te maak.’

“Daarna het sy oë toegegaan en die Terrible-gangsters het begin skiet.

“Ons moes by mense se jaart inhardloop.”

Gearresteer

Inwoners van Uitsig kla die bendeskietery het toegeneem nadat die polisie se base camp uit die area verwyder is. Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, word die moord ondersoek. Niemand is nog gearresteer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters