Verlede maand
Man skielik net witweg
BEKOMMERD: Tracey-Leigh April sê hulle wil nie bespiegel oor wat van haar man geword het nie.  ~ Jonathan Lestrade

DIT was soos enige ander werkdag toe Zhan­dre Jacobs soos mis voor die son verdwyn het.

Die familie van die 30-jarige bankbeampte van Kleinmond het hom Woensdagmiddag 9 Junie as vermis aangemeld. Dít nadat sy kar in ’n parkeerarea van die Palmiet-karavaanpark naby Kleinmond gekry is.

Sy vrou, Tracey-Leigh April (24), sê sy het net ná 08:00 ’n oproep van haar man se bestuurder ontvang waarin dié gesê het Zhandre het die betrokke oggend sy kollegas by die werk kom aflaai, maar toe weer gery.

Hy is nie weer daarna gesien nie. Zhandre werk al die afgelope agt jaar by die betrokke bank.

Tracey-Leigh sê oproepe na haar skoonfamilie het ook geen antwoorde opgelewer nie, want niemand het hom gesien nie.

Sy sê sy het toe Zhandre se neef in Kleinmond gekontak en hom gevra of hy nie haar man daar rond sien nie.

Zhandre se neef, Devon Marinus (35), en swaer, Jonian Mickels (37), het toe self ondersoek ingestel.

Marinus sê: “Ons het eers die voorval by die polisie gaan aanmeld en toe tot in Pringle­baai gery, op soek na Zhandre.

“Dis toe ons in Palmiet aankom dat ons sy kar daar gekry het. Daar was geen ander voertuie behalwe syne nie.”

Tracey-Leigh sê haar man is iemand wat ’n way sal vind om vir haar ’n boodskap te stuur.

Sy sê: “Daar was geen aanduiding dat daar dalk iets fout is nie. Ons het nog die vorige aand gesels en hy het vir my gesê dat hy vroeg die volgende oggend ’n vergadering het.

“Ons wil nie bespiegel nie. Daar is verskeie goed wat kon gebeur het.”

Soektog

Daar is intussen ’n intensiewe soektog na Zhandre van stapel gestuur. Die soektog het binne ’n radius van 18 km geskied van waar Zhandre se kar gevind is.

Die familie het dank en waardering teenoor wetstoepassingsagentskappe uitgespreek wat tans aan die soektog deelneem.

Die familie gaan intussen ook self voort om alle leidrade op te volg oor wat moontlik die dag van Zhandre se verdwyning gebeur het.

Hulle wil graag ook baie dankie sê aan die gemeenskap en al die law enforcement agencies wat hulle in hierdie baie moeilike tyd ondersteun het en steeds bystaan.

Hulle vra dat as enige iemand leidrade het, hulle kontak met die polisie moet maak en die inligting met hulle deel.

Die familie en vriende gaan voort om na Zhandre te soek terwyl die polisie se ondersoek ook voortgaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters