10 dae gelede
Man kritiek ná trok-aanvalle
Ernstig: Die polisieminister, Bheki Cele, sê die owerhede is hard aan die werk om nog aanvalle op lorries te vermy.Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

’N LORRIE driver is met ernstige brandwonde in die hospitaal opgeneem nadat die trok waarin hy geslaap het met ’n petrolbom bestook is.

Dit is een van drie soortgelyke voorvalle wat gister vroegoggend op die N7-snelweg plaasgevind het.

Ná die aanvalle het die polisieminister, Bheki Cele, die werk van sy ministeriële komitee na die Wes-Kaap uitgebrei om met die voorvalle van brandstigting te deal.

Die voorvalle hou na be­wering verband met die na­sionale staking deur lorriebestuurders.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die lorrie driver het omstreeks 01:10 by die Porterville-afrit afgetrek en gaan slaap.

Volgens Van Wyk is die lorrie aan die brand gesteek terwyl hy geslaap het.

“Die driver het ernstige wonde opgedoen.

“Hy kry behandeling in die naaste mediese fasiliteit.”

Die verdagtes is nog op vrye voet, maar sake van poging tot moord, kwaadwillige saakbeskadiging en openbare geweld word ondersoek.

  • In ’n ander voorval het twee karre nog ’n lorrie ook omstreeks 00:10 van die N7-snelweg afgedwing.

Volgens Van Wyk het die trok groente na die Kaapse mark vervoer.

Toe die trok langs die pad tot stilstand gekom het, het ’n groep onbekende verdagtes iets in die voertuig gegooi.

“Die trok het toe begin brand,” het Van Wyk verduidelik.

“Niemand is beseer nie en ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging is by die Moorreesburg-polisiestasie aangemeld.”

  • ’n Soortgelyke voorval het in Eendekuil naby die Piekenierskloof-pas gebeur, sê Van Wyk.

Cele het gister in die parlement gesê ’n ministeriële komitee is saamgestel wat in samewerking met Albert Fritz se Wes-Kaapse ministerie van gemeenskapsveiligheid die N7 sal monitor om soortgelyke voorvalle te voorkom.

“Ons sal op die Wes-Kaap konsentreer. Ons sal werk soos ons in die ander provinsies gewerk het waar soortgelyke gevalle vroeër plaasgevind het.”

Fritz het die aanvalle in die Wes-Kaap veroordeel.

“Ek doen ’n beroep op Cele om die intelligensiedienste, die Valke en die SAPD te mobiliseer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters