6 dae gelede
Man kom op sy birthday wreed om
NET HIERSO: ’n Verslae Frank Brink (58) wys waar sy brandende broer, James “Boere” Brink (54), Donderdag vroegoggend ontdek is. Boere se huis is aan die regterkant op die agtergrond sigbaar.  ~ Anele Mfazwe

CERES. – Ernstig aangerand en gebrand soos ’n stuk vullis. Op sy birth­day.

Dít is wat hier met ’n man in sy 50’s gebeur het.

Buurmense het gedink dis vullis wat Donderdag vroegoggend by Vredebes naby Nduli aan die brand was.

Die neighbours het egter by verdere ondersoek ontdek dis James “Boere” Brink (54) wat aangerand en aan die brand gesteek is voordat hy op ’n oop stuk veld gelos is.

Onderlyf

Die betrokke stuk oop erf is minder as 50 m van sy huis af geleë in die nuwe behuisingontwikkelingsgebied van Vredebes.

Brink het Donderdag verjaar en het besluit om sy birthday vanaf middernag te vier.

Hy is weens ernstige brandwonde, meestal aan sy onderlyf, in die hospitaal opgeneem. Hy is Saterdag­oggend dood.

Die slagoffer se 58-jarige broer, Frank, sê Boere is genadeloos en onmenslik aangerand. Volgens Frank het sy broer brandwonde oor sowat 60% aan sy onderlyf opgedoen.

Frank sê verder: “Ek weet nie wat hier gebeur het nie.

“Miskien het sy aanvaller of aanvallers hom as ’n rower gesien daai tyd van die oggend.

“Maar hy was ’n baie lieflike mens. Iemand wat nooit ’n ander mens seer sou maak nie.

“Hy was ’n gekwalifiseerde ambagsman en baie goed met sy hande; iemand wat altyd jokes gemaak het en lief was vir sing en dans.”

Die motief vir die aanval bly steeds ’n raaisel, want geen van Brink se waardevolle besittings is gevat nie, sê Frank verder.

“Een van sy buurmense het sy watch nog op die toneel opgetel,” sê hy.

“Die polisie het nie eens moeite gemaak om die toneel af te baken nie en dus gaan dit baie moeilik wees om dié saak op te los, want dis sommer van die begin af opgemors.”

Die hele gemeenskap is ook omgekrap oor hoe die cops die saak tot dusver hanteer het.

Mark Mentor, voorsitter van die Ceres se gemeenskapspolisiëringsforum, sê die voorval het die hele dorp geskok.

Hy sê verder: “Ons standpunt is dis onnodig en onmenslik om mense aan te rand en dan nog aan die brand te steek.

“Ons het al gevalle gehad in Ceres waar vroumense verkrag en selfs uitgebrand is. Nou word mense aangerand en hulle word aan die brand gesteek. Dis baie onmenslik.

Arrestasies

“Die gemeenskap moet nou ook begin opstaan en ál wat ons kan doen, is om buurtwagte te stig en te begin rondpatrolleer.”

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n moordklag word ondersoek en daar is nog geen arrestasies uitgevoer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters